No caption found


Man (52) het Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere nadat lede van die Suid-Afrikaanse polisie ’n klopjag by ’n stoor in Burgundy Estate verlede week uitgevoer het.

Die gesteelde goedere sluit in drank en sigarette met ’n geskatte straatwaarde van R1,7 miljoen, sê AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder.

Volgens hom het polisiebeamptes inligting opgevolg in verband met die berging van vermoedelik gesteelde goedere, nadat ’n vragmotor gekaap is. Beamptes het verlede Donderdag op die vermoedelik gesteelde drank en sigarette, afgekom, sê Swartbooi.

Die vragmotor is ’n week gelede in Klapmuts gekaap. In die polisie se ondersoek is bevind dat die afleweringsvragmotor na ’n onbekende bestemming gery is. Inligting wat ingesamel is oor die moontlike ontsnappingsroetes en verdagte stoor-fasiliteite het die geïntegreerde misdaadbekamping-ondersoekspan na ’n stoor in Burgundy Estate gelei, sê Swartbooi.

“Hier het die polisiebeamptes op ’n reusebesending drank en sigarette afgekom.” ’n Volwasse man by die stoor, wat nie ’n bewys van aankope vir die goedere kon verskaf nie, is aangekeer.

Lt. Genl. Thembisile Patekile, Wes-Kaapse polisie-kommissaris, het die pogings deur alle polisiebeamptes wat gehelp het om die verdagte vas te keer, geprys.

Die Richwood-buurtwag het aangedui dat hulle weet van die voorval, maar nie verdere inligting daaroor het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article