Ter illustrasie

´n Man (30) is vandeesweek in die Parow-streekshof tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van´n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die skuldige, Shameel Markus, is ´n vyf jaar lange direkte tronkstraf opgelê. Volgens Zinzi Hani, die Valke-woordvoerder, is hy ses jaar gelede reeds met die vuurwapen en ammunisie betrap.

Markus is Dinsdag 9 September gevonnis. Hy is nege jaar lank gestraf vir die besit van ´n ongelisensieerde vuurwapen waarvan vier tot vyf jaar opgeskort is. Hy is ook ‘n 12 maande lange tronkstraf opgelê vir die besit van ammunisie, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.

“Lede van die teenbende-eenheid was op 18 April 2019 besig met misdaadvoorkomingsoperasies in die Bishop Lavis-omgewing toe hulle hoor hoe skote afgegaan het in die rigting van Vygieweg. Die lede het daarop gereageer en in Vygieweg se rigting gery waar hulle die verdagte opgemerk het waar hy besig was om skote af te vuur. Die lede het die verdagte takties genader en hy was dadelik in hegtenis geneem vir die besit van ´n 9 mm-vuurwapen met patrone in die magasyn,” sê Hani.

Die saak is na die Valke vir ondersoek verwys wat gelei het tot die vonnisoplegging. Markus sal vyf jaar tronkstraf uitdien. Daar is ook bepaal dat hy onbevoeg is om ´n vuurwapen te besit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article