Die Oesmaan op 25 Maart is die derde volmaan van die jaar en een van die kleinste volmane in 2024, omdat die maan dan amper op sy verste punt van die aarde af is.
Dit staan daarom bekend as ’n minimaan, wat op 23 Maart 406 292 km ver van die aarde af sal wees.
Die maan, wat in Amerika bekend is as die Worm Moon, is onlangs deur die Centre for Astronomical Heritage in Kaapstad herdoop na die Oesmaan, wat dié spesifieke tyd van die jaar in Suid-Afrika aankondig.
“Die Amerikaanse benaming Worm Moon verwys na die verskyning van wurmspore net onder die grondoppervlakte wanneer die bevrore grond ontdooi aan die begin van die lente in Noord Amerika. Maar die benaming is geheel onvanpas in Suid-Afrika. Voor die aankoms van die Europeërs in Suid-Afrika het al die inheemse inwoners, met die uitsondering van die San en Khoi, verskeie somergraangewasse min of meer dié tyd van die jaar geoes,” sê Edward Foster, direkteur by die Centre for Astronomical Heritage.
“Aangesien somergraangewasse krities belangrik was vir die oorlewing van die inheemse saaiboere in die voor-koloniale Suid-Afrika, het baie van die benamings wat hulle aan dele van hul jaar gegee het aktiwiteite verwant aan die plant, versorging en oes van die gewasse weerspieël.”
Maart is ook die oestyd vir somergraangewasse in die hedendaagse Suid-Afrika.
“In Maart staan die druiwe-oes in die Weskaap reeds einde se kant toe. Ander gewasse soos wintergraansoorte, sagte vrugte, sitrus en vele ander word op ander tye in die jaar geoes. Om hulle hierby in te sluit sou verskeie Oesmane in die jaar vereis het, en dit was duidelik nie ’n prakties reëling nie. Om die Amerikaanse Worm Moon met die Oesmaan te vervang in Suid-Afrika, is dus geografies en kultureel verantwoordbaar.”
Op 25 Maart is daar ook ’n gedeeltelike maansverduistering – ’n gebeurtenis wat ongelukkig nie te siene gaan wees vir Suid-Afrikaners nie.
Tussen 06:53 en 11:32 ons tyd sal die maan deur die halfskaduwee van die aarde beweeg.
“In Kaapstad gaan die maan reeds om 06:51 sak en dit sal heelwat voor daardie tyd vir almal ten ooste van Kaapstad ondergaan,” sê Foster, maar voeg by dat dit weliswaar ’n besondere verduistering gaan wees omdat die hele maan deur die halfskaduwee gaan beweeg en nie net ’n gedeelte van die maan nie, soos met die meeste sulke verduisterings. Dis ook die laaste minimaan in 2024. Supermane sal wel in Augustus, September, Oktober en November plaasvind.





