Inwoners van Plattekloof 1, 2, en 3 sal hierdie naweek (Saterdag 16 September) kan registreer óf herregistreer vir aanstaande jaar se nasionale en provinsiale verkiesing.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal kiesers by die Northlink-kollege se Tygerberg-kampus in Panorama met hul registrasie-proses help. Daar word ’n beroep op inwoners gedoen om van dié geleentheid gebruik te maak. Die registrasie vind van 10:00 tot 14:00 plaas.
Dit is belangrik dat Plattekloof-inwoners besef dat hulle nie geregistreer is nie en nie weer sal kan stem mits hulle herregistreer nie, sê Cheryl Visser, raadslid van Wyk 1.
“Dit is almal wat voorheen by World Estate in Plattekloof gestem het. Die kiesers sal, afhangend van waar hulle woon, in die volgende verkiesing by die Northlink-kollege of Panorama Palms kan stem. Kiesers sal in 2024 slegs kan stem waar hulle geregistreer is,” sê Visser.
Inwoners kan hul identiteitsnommer na die OVK stuur om te bevestig of hulle wel geregistreer is, al dan nie, en waar hulle moet stem.
Registrasie verloop vlot
Die opkomende registrasie volg ná die afgelope naweek se kieserregistrasie by die Laerskool Monte Vista, waar altesame 42 nuwe inwoners en jong mense geregistreer het.
“Dit was hartverblydend om te sien hoe jong mense van 16 jaar kom om vir die eerste keer te registreer,” sê Visser. Jeugdiges kan van die ouderdom van 18 jaar stem.
“Ons het die afgelope twee weke die De Plattekloof Lifestyle-landgoed, Panorama Palms- en Fontaine Bleau-aftreeoord en die Portofino-woonkompleks saam met die OVK besoek.
“Altesame 246 mense is gehelp om hul registrasie reg te maak. Mense is gretig en ernstig om hul registrasie reg te maak sodat hulle volgende jaar by hul naaste stemlokaal hul stem kan uitbring,” sê sy.
Wyk 1 se stemlokale aanstaande jaar sluit in die laerskole Panorama, Monte Vista, die Panorama Palms-aftreeoord en Northlink-kollege.
“Ek sal dit waardeer as behuisingskomplekse ons uitnooi om te kom help met die registrasie van hul inwoners,” sê Visser.





