Dit was ’n geval van die bordjies verhang in die afgelope naweek se eerstespan-skolerugbywedstryde.
DF Malan (t HS Bellville), Brackenfell (t HS Tygerberg) en Hottentots-Holland (t De Kuilen) was almal die afgelope Saterdag aan die wenkant om daarmee wraak te neem vir hul nederlae verlede seisoen teen die genoemde spanne.
DF Malan het hierdie keer naelskraap met 27-24 deurgeskuur teen sy buurman, HS Bellville. Die groot jammerte van hierdie jare lange interskolewedstryd is egter die vele eienaardige beslissings van ’n besoekende Amerikaanse skeidsregter, wat met sy optrede die kragmeting erg ontwrig het.
Brackenfell het met beter benutting van sy puntekanse welverdiend met 29-19 teen Parow se Tiere gewen, terwyl De Kuilen lelik op die neus moes kyk toe Hottentots-Holland die Kuile ’n drag slae van 46-5 toegedien het.
’n Verspotte, niksseggende beswaar wat die HS Strand teen die HS Durbanville ingebring het, het daartoe gelei dat hierdie wedstryd toe nie die afgelope naweek plaasgevind het nie. Strand se beswaar het blykbaar gegaan oor twee Durbie-spelers wat glo nie meer onder 19 sou wees nie, maar Nico Minnie, die sportdirekteur van die HS Durbanville, het dit ten sterkste weerlê.
In ’n uitgedunde reeks wedstryde Saterdag was HTS Bellville (26-10 t Kasselsvlei) en Fairmont (14-10 t Tygerberg-klub) beter daaraan toe, terwyl Monumentpark op Vredenburg sy interskole-kragmeting met 19-17 gewen het.
Die hoofdis op die komende Saterdag se program is die derby-kragmeting tussen die HS Durbanville en die besoekende Stellenberg. Die Stellies se o.19A-span was verlede jaar bobaas.


