Ma verkoop douvoordag toebroodjies om dogter se netbaldroom te bewaarheid

Noline Vryster en haar ma, Annaline Boonzaaier.

Verskaf

‘n Enkelma van Kraaifontein verkoop soggens om 05:00 al toebroodjies buite haar huis aan verbygangers om die R5 000 in te samel vir haar dogter om op ’n netbaltoer te gaan.

Dit was ’n droom wat waar geword het vir Noline Vryster (12), ’n kranige jong netbalspeler, toe sy onlangs gekies is om aan die Westelike Provinsie-netbalkampioenskap in Riversdal deel te neem.

Die toer, wat tussen 3 en 6 Julie sal plaasvind, kos R5 000 vir onder meer vervoer, akkommodasie en maaltye vir drie dae.

Anneline Boonzaaier sê sy is baie trots op Noline wat vir die eerste span netbal by haar skool, die Primêre Skool Eikendal, speel.

“Sy is my enigste meisiekind en is my trots. Sy blink uit in netbal en ook met haar skoolwerk waar sy in die top-tien bly in graad 6. Sy het gesê: ‘Mammie, ek wil netbal speel, en dit was dit’,”

 sê Anneline.

Anneline, wat onlangs haar werk verloor het, sê dit gaan finansieel nie goed met die gesin nie, daarom dat sy die toebroodjies verkoop.

“Ek is ma en pa vir Noline, en ek bid dat mense se harte sal oopgaan om ons met ’n borgskap te help,” sê sy.

Noline, wat hoofdoelverdediger speel vir haar span, is baie opgewonde oor die toer.

“Die toer is een stappie nader aan my droom om eendag vir Suid-Afrika netbal te speel. Toe ek klein was, het ek my ma sien netbal speel en ek wou nes sy wees. My familie hoop en glo in my en ek weet ek kan hulle trots maak,” sê Noline.

  • Kontak Anneline by 060 794 8570 vir meer inligting of om te help.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article