Die ma van Bonteheuwel wat naakfoto’s van haar minderjarige kinders op die donkerweb verkoop het, is verlede week 25 jaar tronkstraf opgelê.
Die vrou, wie se naam weerhou word om die kinders te beskerm, het oor ’n lang tydperk foto’s van haar kinders geneem en aan pedofiele reg oor die wêreld verkwansel.
Die Amerikaanse Federale Intelligensieburo (alombekend as die FBI) het haar in ’n hinderlaag gelei en uiteindelik tot in Bonteheuwel nagespeur, waar sy op 11 Maart 2021 in hegtenis geneem is.
Die ma van vyf het skuld beken op 70 aanklagte, wat onder meer verkragting en seksuele aanranding insluit.
Luidens ’n verklaring deur Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het die ma ’n 105-ooreenkoms (’n pleit-en- vonnisooreenkoms) met die staat aangegaan.
“Die ooreenkoms is reeds op 25 November 2022 aangegaan, ná gesprekvoering met die verdediging,” sê Ntabazalila.
Hy het weer eens benadruk dat die ma se naam nie bekend gemaak mag word nie, omdat dit die slagoffers kan identifiseer.
Angus McKenzie, plaaslike raadslid, het die vonnis verwelkom.
“Die verhoor het lank geduur, maar ons is bly dat dit nou uiteindelik verby is. Die kinders kan nou begin om hul lewens te herbou. Ek hoop hierdie voorval is ’n les vir ander siek mense daarbuite. Jy sal gevang word en die reg sal sy verloop neem,” sê hy.





