Drie jaar en twee maande ná die tragiese dood van haar enigste kind soek ’n ma van Parow steeds antwoorde, geregtigheid en afsluiting.
Dit alles word egter bemoeilik deur die onvoltooide ondersoek na die motorongeluk waarin haar dogter in 2021 dood is, meen Jeanetta Groeneveld.
Sy sê sy sukkel om aan te beweeg ná die dood van haar dogter, Maxi Groeneveld (17). Sy kry ook min antwoorde van die polisie wat tans die saak ondersoek, sê sy.
TygerBurger het einde verlede jaar ook oor haar stryd met die speurtak by die Parow-polisie berig, (“Ma soek antwoorde”, 29/11/23).
Maxi was ’n voormalige leerder van die Hoërskool Tygerberg. Sy en nog twee mense is in ’n motorongeluk op Sondag 3 Januarie 2021 dood. Net een insittende van hul voertuig het die voorval oorleef.
Die ongeluk, glo ’n trompop botsing tussen twee voertuie, het op die hoeke van Giel Basson- en Burgundy-rylaan in Burgundy Estate plaasgevind. Die presiese oorsaak is nog onbekend, maar Groeneveld sê sy bid sedertdien dat daar teen die bestuurder van die tweede voertuig opgetree word.
Daar is glo twee ooggetuies in die saak, sê sy. Die persoon van belang se naam is aan TygerBurger bekend. Hy word moontlik deur drie aanklagte van strafbare manslag in die gesig gestaar.
Ondersoek
Groeneveld het die saaknommer aan die koerant verskaf en navrae is na die Wes-Kaapse-polisie, Parow-polisie, sowel as die speurtak by die Parow-polisiekantoor gestuur, maar geen terugvoering is nog ontvang nie.
Volgens die bekommerde ma word daar altyd met verskonings vorendag gekom oor die vordering van die ondersoek. Sy beweer verder dat daar min tot geen kommunikasie plaasvind nie.
“My kind se saak neem hulle ligtelik op,” sê sy.
Groeneveld was die betrokke dag van die ongeluk self op die toneel. “Volgens my is daar nie goeie werk op die dag gedoen nie.”
Volgens haar het sy aanhoudend kontak behou en die inligting rondom die saak, die lykskouingsverslag en ingenieursverslag só bekom.
“Ek dink alles is uiters sleg, onprofessioneel en ongeorganiseerd.”
Groeneveld voel die polisie steur hulle nie veel aan die saak nie. “My hart is gebreek van seer oor my kind,” sê sy.
Gebeure onthou
Sy het die hartseeroggend se gebeure gedeel: Hoe sy op die toneel haar dogter wou sien en vashou, maar gekeer is; hoe die bestuurder van die tweede voertuig op die toneel rondgestaan het, en daar ses ure lank aan die toneel gewerk is.
Ná afloop daarvan is haar dogter se lyk na die Tygerberg-hospitaal se lykshuis geneem, waar Groeneveld haar die volgende oggend deur glas moes uitken.
“Vir ’n groot ongeluk soos hierdie neem die saak hopeloos te lank. Drie jaar en twee maande,” sê sy.
Sy het ook die erge beserings wat Maxi opgedoen het, beskryf. “Haar skedel was oop en haar hele gesig was geskend.”
Sy beskryf haar ervaring van die saak sover as onmenslik. “Hulle gee nie om nie.”
Maxi en haar drie vriende was die betrokke oggend op pad na Pinelands, waar hulle gewerk het.





