Die ouers van die baba wat vroeër vanjaar in Bishop Lavis gesteel is, het verlede week nog ’n terugslag ervaar.
Kai-isha Meniers is in Mei gesteel toe ’n onbekende vrou in ’n winkel haar as ’n weldoener voorgedoen het. Die vrou het aangebied om die kind vas te hou terwyl die ma inkopies gedoen het, maar het toe met die baba die hasepad gekies. Die kind word steeds vermis.
In nuusberigte is verlede week beweer ’n vrou is in die nabygeleë Elsiesrivier in hegtenis geneem.
By navraag het sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, bevestig dat ’n verdagte uitgewys is.
“Iemand het ’n verdagte uitgewys en lede van die Elsiesrivier-polisie het die ma van die baba na die verdagte geneem. Die ma het bevestig dat dit nie die vrou is wat haar baba gesteel het nie,” sê Adonis.
Amanda Davids van die Bishop Lavis-aksiegroep sê die soeke na Kai-isha is frustrerend.
“Daar was al so baie leidrade en elke keer loop dit op niks uit nie. ’n Mens weet amper nie meer wat om te glo nie, want daar is verskillende stories.
“Ons, as gemeenskap, sal nie hoop verloor nie en sal aanhou soek tot ons die kind gevind het,” sê Davids.
Davids het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om voortdurend op die uitkyk te wees vir die kind. “Iemand daar buite weet waar die kind is. Iemand weet wie die kind gevat het. ’n Vrou kan nie net uit die bloute met ’n kind opdaag en niemand vra vrae nie. Hoe kan dit wees?
“Ons doen ’n beroep op die persoon wat die kind gevat het, om haar terug te bring,” sê Davids.
TygerBurger het probeer vasstel hoe die ondersoek vorder, maar het teen druktyd nog nie terugvoer van die Bishop Lavis-polisie ontvang nie.





