Carmen Snyders en Cater, haar sewejarige outistiese seun.

Credit: SYSTEM

’n Ma van Eersterivier het op eie houtjie bewusmaking vir outisme begin kweek.

Carmen Snyders, die ma van ’n sewejarige outistiese seun, sê dit het haar begin bekommer dat niemand wat hulle met die regte van outistiese kinders bemoei, in haar omgewing beskikbaar is nie.

“Ek het al baie keer gewonder hoekom iets nie in ons gemeenskap gedoen word nie. Ek en my ma moes onlangs suidelike voorstede toe gaan om aan ’n geleentheid wat vir outistiese kinders aangebied word, deel te neem,” sê Snyders.

Sy het ’n geruime tyd met die idee geloop om iets te doen, maar het nooit daarby uitgekom nie.

“Ek het vroeër vanjaar net een oggend wakker geword en besluit ek gaan ’n pretdag vir kinders met spesiale behoeftes reël. Nes ander kinders verdien hulle ook om ’n bietjie bederf te word, en dit is wat ek beplan om te doen,” sê Snyders.

Volgens haar beplan sy die pretdag vir 2 April, wat ook Wêreld-outismedag is.

“Ek wil regtig die aandag op kinders met gestremdhede plaas, want dit is ook in baie gevalle hulle wat met armoede ook sukkel. My seun is amper agt en dra steeds babadoeke. Dit is ’n groot uitgawe en ouers met kinders met gestremdhede sukkel soms om die finansiële las te oorkom. By die pretdag wil ek ook vir elke kind ’n omgeepakkie, met goed soos tandeborsels en waslappe gee,” sê sy.

Snyders, wat haar werk tydens die pandemie verloor het, laat nie toe dat terugslae haar onderkry nie en sal die pretdag laat plaasvind.

“Toe ek my werk verloor, het ek my as student by die Universiteit van Wes-Kaapland ingeskryf vir ’n graad in maatskaplike werk. Dit is sodat ek myself beter kan toerus om ander ouers wat in dieselfde bootjie is, te kan help,” sê sy.

Mense wat daarin belangstel om Snyders met haar projek te help, kan haar by 066 255 0074 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article