Cindy Jacobsz en haar dogter Erica van Boston in Bellville het op Saterdag 19 Februarie as die enigste siggestremde span aan die Woolies Xtri in perfekte weersomstandighede op Paul Cluver-plaas deelgeneem.
“Ons was bevoorreg om toestemming te kry van die organiseerders van die Xtri as die enigste siggestremde span om aan die driekamp deel te neem, waar ons in die 400 m-oopwater-swem, die 12 km MTB-fietsrit en die 5 km-roetelopie (trail run) in aksie was. Erica was my gids en dit was nie die eerste keer dat ons as ma en dogter aan ’n driekamp deelgeneem het nie – ons het in 2019 aan die Afrika-parakampioenskappe in Mauritius deelgeneem en ’n goue-medalje gewen,” vertel Cindy.
Die swem was sonder ’n duikpak aangesien die temperatuur van die water 24 °C was.
“Die swem was ’n baie veilige en aangename swem en ek het ’n paar keer ’n paar ekstra meters bygesit omdat ek weg van Erica geswem het. Ons is aan mekaar gebind met ’n rekbare band wat tot 1,5 m kan rek, om te verseker dat ek nie die hele dam vol swem nie. Erica moes maar geduldig wees en my terugroep op die roete,” skerts sy.
“Ná die swem het die tandem-fietsry in die oorgang gewag en ons het soos ’n geoliede masjien in die heuwels en wingerde weggetrek.
“Ons het skielik op ’n afdraande gestop en Erica het gesê ‘water’. Die fotograaf wat die driekamp gedek het, het gesê as ons deur die water ry, is ons op video. Ek dink dit was Erica se eerste keer om met ’n tandem deur water te ry. Ons is deur en al laggend en kreunend teen die kontoerwal op. Dit was ’n belewenis om tussen die bome en wingerde te ry.
“Net voor die einde het een van die beamptes van Driekamp Suid-Afrika ons gemaan van gevaar by nog ’n kontoerwal wat ons nie so maklik kon oorkom nie. Ons het ewe galant gestop, afgeklim en die tandem oor die wal gestoot. Die toeskouers het ons heeltyd aangemoedig en dit was baie inspirerend,” sê Jacobsz.
Die 5 km het hulle met grasie aangepak en lekker gestap soos hulle hulself belowe het – op die enkelspoorpaadjie en waar dit nie “veilig” was vir ’n siggestremde nie.
“Ons het die driekamp met fleur voltooi, en dit was ’n besonderse geleentheid. Ek wil alle siggestremde atlete aanmoedig om aan wedrenne deel te neem, hul behoeftes uit te leef en hul doelstellings te bereik,” sê sy.
Chris Hitchcock, die fotograaf, het op sy Facebook-blad geskryf Jacobsz inspireer hom en hy voel hy kan die wêreld oorwin nadat hy bevoorreg was om binne 100 m binne haar ruimte te wees.





