Lyk van 18-jarige met skietwond aan sy kop op treinspoor naby Bonteheuwel gevind

No caption found


Bendegeweld in die Bonteheuwel-omgewing is aan die toeneem en dit is hoekom lyke weer oral opduik.

Só sê die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, nadat die lyk van ’n 18-jarige verlede week met ’n kopwond op die treinspoor naby Bonteheuwel gevind is.

Dit is die derde lyk wat sedert Junie op die spoor gevind word.

Vroeër in Julie is ’n gestremde skoolseun se lyk ook met ’n skietwond op die spoor gevind en voor dit is ’n vermeende bendelid ook daar dood gevind.

Volgens McKenzie lyk dit of die jongste liggaam op die treinspoor gegooi kon gewees het en die slagoffer nie noodwendig daar geskiet is nie.

“Ek weet die inwoners is bang om na vore te kom uit vrees vir vergelding, maar ek wil tog ’n beroep doen dat hulle met inligting na vore kom. Verder wil ek vra dat die polisie en gemeenskapsorganisasies moet saamwerk om ’n inligtingsnetwerk te skep waarmee sulke misdade gepak kan word. Hierdie sinlose moorde moet gestop word,” sê McKenzie.

Hy sê bendegeweld plaas ’n demper op ekonomiese groei in die gebied.

“Sakemanne is bang om hul ondernemings hierheen te bring en dit lei tot werkloosheid. Hierdie werkloses sluit by bendes aan en raak dan weer deel van die probleem. Dis ’n bose kringloop,” sê McKenzie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article