Sy is die enigste persoon in die land met haar spesifieke gewas – iets wat haar van jongs af van die middel af verlam gelaat het.
Maar in plaas daarvan dat dit haar permanent onderkry, gebruik Celise Rix (18) dié diagnose as motivering vir ’n lewe van een prestasie ná die ander.
Dié oud-leerder van die Hoërskool Bellville is verlede week op ’n seremonie vir toppresteerders deur Debbie Schäfer, die LUR vir onderwys, met ’n spesiale merieteprys vereer.
“Dit is ’n baie groot eer,” sê Celise.
“Ek’s baie dankbaar vir my skool en trots op hulle. Ek is baie dankbaar vir dit wat hulle vir my moontlik gemaak het.”
Dié beskeie student het nie net ses onderskeidings en ’n gemiddelde van 86,7% behaal nie, maar ook ’n reeks ander pryse by haar skool losgeslaan.
Sy was onder meer telke male die toppresteerder in verskillende vakke, was vir vier jaar in die skoolkoerant se redaksie, hoof van die ATKV-tak in die skool en lid van die koor, en het sedert gr. 10 in die leerlingraad gedien.
Celise, wat in 2003 in Constantiaberg gebore is, het normaal ontwikkel, maar van vroeg af met ongemak gesukkel.
Op 28 maande is ’n gewas op haar spinale koord met behulp van ’n MRI-skandering bespeur. Die seldsame gewas kan nie geopereer word nie omdat dit nie van haar senuwees onderskei kan word nie.
Die onsekerheid ná haar diagnose was moeilik, sê haar ma, Ghita.
“Ons het gewonder – sal sy kan skoolgaan; sal sy haar eie ideale en drome kan bereik? Maar een ding wat ons nog altyd gesê het, is dat ons alles gaan probeer om vir haar die beste lewe moontlik te gee.”
Daar was oor die jare maar baie emosies en ervarings, sê sy, en sy het konstante uitdagings. Celise word dikwels moeg en baie instansies is nie ingerig vir mense met gestremdhede nie. Selfs die sypaadjies is moeilik om op te ry omdat lamppale en asblikke dikwels in die middel daarvan staan.
“Celise moes drie keer in haar lewe leer loop – op elf maande; ná die eerste spinale chirurgie asook weer op vierjarige ouderdom, aangesien haar ewewig telkens deur die operasie versteur is. Sy het egter net ná haar vyfde verjaarsdag ophou loop weens die druk wat die gewas op haar spinale koord plaas,” lui ’n motivering wat die Hoërskool Bellville by die departement vir haar prys ingedien het.
Sy gebruik sedert vyfjarige ouderdom ’n rolstoel.
Ghita sê sy en haar man, Igor, het nooit getwyfel of Celise in die lewe goed sou vaar nie. “Ons is eintlik net oorweldig en dankbaar. Ons is natuurlik ongelooflik trots op haar, maar sy het nog altyd baie dissipline, selfvertroue en baie motivering gehad.”
Celise, wat die skool se kunsprys ontvang het, het ’n groot gawe om die klein dinge in die lewe raak te sien, sê beide die skool en haar ma. “Dit kon baie anders gewees het,” sê Ghita. “Sy is innerlik baie volwasse.”
Die skool sê weer Celise is ’n inspirasie vir ander. “Haar vriendelikheid, omgee vir ander, deursettingsvermoë, toegewydheid en betrokkenheid by die skool maak haar ’n uitsonderlike leerder.”
Ghita sê Celise was nog altyd in “ongelooflike” skole wat baie tegemoetkomend was. Aanvanklik het veral baie laerskole gesê hulle kon haar nie akkommodeer nie, maar diegene wat kon, was fantasties.
Sy was tot gr.6 in Melkbosstrand Privaatskool en nadat haar ouers getrek het, was sy in gr. 7 in die Laerskool Mikro in Kuilsrivier.
Daarna het hulle weer na Chrismar in Bellville getrek en woon langs die hoërskool.
“(Hoërskool) Bellville het nie ’n oomblik gehuiwer nie,” sê sy oor daardie oproep oor of hulle Celise sou aanvaar.
“Meneer du Plessis (die skoolhoof) het net gesê dit is wonderlik om haar te hê.”
Hulle het nog twee kinders, Anika en Dante, wat ook tans in die hoërskool is.
Celise se raad aan ander is om nie toe te laat dat iets hulle onderkry nie, al is dit soms moeilik om positief te bly.
“Hoe meer jy probeer, hoe meer gaan jy regkry.”
Sy het onlangs aanlyn begin studeer.





