Timmothy Eloff maak kamma die swembadpomp van Liana de Villiers reg – die einste swembadpomp wat daartoe gelei het dat sy paaie weer met hare kruis.FOTO’s: Esmé Erasmus


Vir ’n jong man van Durbanville, eens ’n kinderhuiskind, het die meetsnoere nou ná onstuimige kinderjare op die regte plekke begin val.

Timmothy Eloff (25) het onlangs sy eie loodgietersbesigheid begin. Hy en sy vennote het nog nie eens die besigheid behoorlik bekend gestel nie, en hulle moes reeds bontstaan om al die werksopdragte na te kom.

Hy was 15 jaar oud toe hy in die Durbanville-kinderhuis gekom het nadat hy van kleins af in sy ouma se pleegsorg, en later by sy pa geplaas is.

Timmothy het hom ná skool as ’n loodgieter bekwaam en ’n paar jaar lank vir ’n plaaslike loodgietersbesigheid gewerk. Sy droom was egter altyd om sy eie besigheid te begin.

Sy sukses het nie gekom sonder ’n goeie hupstoot van sy vennote, Liana de Villiers van Eversdal, en haar eksman, Tony Tessendorf, nie. De Villiers is die operasionale bestuurder en behartig die bemarking, terwyl Tessendorf deeltyds ’n ogie oor die administrasie en finansies hou.

Timmothy het De Villiers op skool leer ken toe hy bevriend was met haar vriendin, Salomé Horn, se dogter. Hulle was saam op skool aan die Hoërskool Bellville.

“Ek het altyd vir hom gesê as my ‘skippie’ inkom, dan maak ek ’n plan,” sê De Villiers. Haar “skippie” was toe haar skeidingspakket einde April vanjaar toe haar werk haar moes aflê.

Hul paaie het weer gekruis toe sy hom sowat drie maande gelede kontak om na haar stukkende swembadpomp te kom kyk.

Net daar vat Timmothy se droom van ’n eie besigheid weer vlam. De Villiers het die kapitaal verskaf en hulle het gekoop wat gekoop moet word, en ’n stylvolle kantoor by haar huis in Chantecler in Durbanville ingerig.

Timmothy se geesdrif was so aansteeklik dat De Villiers en Tessendorf se seun, Michael (18), ’n matriekleerder aan die Hoërskool Fairmont, sy planne om hom as ortodontis te bekwaam, laat vaar het.

Hy het skaduwerk saam met Timmothy gedoen, en wil nou niks anders as loodgieterswerk doen nie. Hy gaan volgende dié ambag aan die Tjeka-kollege in Durbanville studeer.

“Sy vriende kan nie glo dat hy ’n loodgieter wil word nie, maar hy is baie opgewonde. Ons fone lui aanmekaar. Timmothy het ’n wye netwerk; almal ondersteun hom,” sê De Villiers.

Hulle sou eers die nuwe besigheid, The People’s Plumber, op 1 Augustus bekendstel, maar reeds ’n week vroeër “het alle hel losgebars soos ons telefoon gelui het”. Só dat hulle nog voor hul bekendstelling reeds 17 werksopdragte in net vyf dae voltooi het – enigiets van swembadpompe, warmwatersilinders en sonpanele vir warmwatersilinders tot nuwe installasies.

“Ek is ’n mense-mens en maak altyd tyd om te gesels of ’n vinnige grappie te deel. My sterkste eienskap is dat ek baie ambisieus is; ek stel vir my ’n doelwit en ek werk so hard as moontlik om dit te bereik,” sê Timmothy.

Wat hy die meeste van sy werk geniet, is nie net die mense nie, maar ook om so te kan rondrits na werksopdragte.

“Vir my is dit so amazing dat ek bevoorreg is om die Kaap te kan sien uit al my kliënte se oë, want, glo my, dit maak nie saak hoeveel keer ek al vir Tafelberg gesien het nie, of selfs net ’n sonsondergang, uit elke huis lyk dit anders,” sê hy.

Sy oë begin sommer blink as hy van sy vrou, Gheraldine, praat, met wie hy onlangs getrou het. Die jong paartjie bly in Boston.

“Ons is wel al vyf jaar saam en sy sê ek is so ver baie gelukkig getroud,” skerts hy.

“Na al die jare is dit baie moeilik om iemand spesifiek te noem wat my gemotiveer het; ek was geseënd met soveel ma- en pa-figure en almal het bygedra tot die mens wat ek vandag is.

“Die kinderhuis was nie altyd lekker nie, maar ek glo hulle het hul beste gedoen. Met die hulp van die publiek maak dit ongelooflik baie deure vir kinderhuiskinders oop,” sê hy.

Hy wil die jeug inspireer en ook laat besef dat om universiteit toe te gaan, nie die alfa en omega is om ’n sukses van jou lewe te maak nie. Hy hoop ook om terug te ploeg by die Durbanville-kinderhuis en werk daar gratis of teen afslag te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article