In ’n berig in die TygerBurger van 25 Mei verwys die skrywer na enkele verwronge uitslae wat van tyd tot tyd in die rugbyligawedstryde voorkom (“Rugbybase kry turksvy by”).
Die Westelike Provinsie se “skole-rugbybase’’ behoort, volgens die berig, hierdie situasie te ondersoek. Vergun my die geleentheid om die ligastruktuur vir die skole in die Westelike Provinsie aan die lesers te verduidelik.
Die liga word verdeel volgens die aantal spanne wat deur ’n skool of jeugklub ingeskryf word. Dit is die reg van skole of klubs om in ’n bepaalde liga in te skryf indien hulle aan die vereistes vir daardie liga voldoen. Die liga word verdeel in Premier A (minimum 15 spanne), Premier B (minimum 10 tot 14 spanne), A1 (minimum 7 tot 10 spanne) en A2 en A3 met 6 spanne of minder. Daar is ook ’n Vuka-liga wat onder die vaandel van die SA Legends aangebied word vir skole waar rugby nie gespeel word nie of doodgeloop het.
Tans speel agt skole in die Premier A-liga en ook agt skole in die Premier B-liga. Die res speel in die A2- en A3-ligas.
Dit is die doel van die bestuur om elke skool of klub in ’n liga minstens een keer in die seisoen teen mekaar te laat speel. Waar moontlik word daar ook aan die Premier B-liga en die laer ligas die geleentheid gegee om wedstryde teen spanne in die hoër ligas te speel om hul spelpeil te toets. Die ligabepalings word egter bemoeilik omdat elke skool of klub die geleentheid kry om drie wedstryde per jaar te kies waarin hulle teen teenstanders van buite die provinsie speel of om tradisionele interskole-wedstryde in te pas. Wanneer al hierdie faktore in ag geneem word, is die uitwerk van ligabepalings nie so ’n eenvoudige taak soos wat algemeen aanvaar word nie.
Die berig meld die “bevraagtekende uitslae” in sommige wedstryde. Dit is uiteraard nodig om aandag hieraan te gee. Ter versagting moet genoem word dat die Covid-19-pandemie daartoe gelei het dat spelersgetalle skerp afgeneem het – iets wat dit moeilik gemaak het vir skole om hul krag te bepaal.
Verdere faktore soos beserings lei soms tot verwronge uitslae. Indien sulke tendense egter voortduur, sal die uitvoerende komitee daaraan aandag gee. In die twee jaar voor die pandemie is drie skole vanuit die Premier B-liga afgeskuif na die A1-liga. Een van daardie skole speel nou in die A2-liga.
Die teenoorgestelde is ook waar. Een skool het reeds uit die A1-liga opgeskuif na Premier B omdat hulle aan die vereistes voldoen het. Dit is egter waar dat uitslae in sulke gevalle ’n leerkurwe weerspieël.
Die uitvoerende komitee van die WPHSRV poog om voortdurend aandag te gee aan die probleme wat deel vorm van die enorme uitdaging om wedstryde te reël vir die 493 spanne wat elke week in die WP rugby speel.
Repliek van TygerBurger se vryskut-sportverslaggewer, Sarel Burger: Dit is onduidelik wat die briefskrywer se beswaar is, want in werklikheid beaam hy wat in die berig uiteengesit is – naamlik dat buitensporige wedstryduitslae in die o.19A-kompetisie nie aanvaarbaar is nie.
Tot redelik onlangs was ek – ongeveer 20 jaar lank – die wedstrydsekretaris van die WP se hoërskole-rugbyunie (WPHSRU) en het inderdaad grootliks die strukture geskep waarvolgens die WP-kompetisies tans afgehandel word. Die opset met betrekking tot die skolerugby-wedstrydbepalings in die WP is dus hoegenaamd nie onbekend aan my nie.
Ten opsigte van die met tye “verkeerde” uitslae (waaroor die berig handel) is daar drie faktore ter sprake: skole se moontlik onbewustelik foutiewe inskrywings vir die onderskeie kompetisies en ligas, tweedens dalk onvoorbereide spanne en dan waarskynlik ondeurdagte “foute” aan die kant van die wedstrydsekretaris (as gevolg van ontbrekende of foutiewe inligting aan hom) by die finalisering van die wedstrydbepalings.
Indien hierdie drie faktore saam in die bed beland, gee dit – soos die betrokke berig immers aandui – genoegsame rede aan die bestuur van die WPHSRU om wel ’n ondersoek te doen oor die voorkoms van wanstaltige uitslae.




