Ek wil graag mense bewus maak om die inligting wat saam met medikasie kom, deeglik te lees. Ek doen dit gewoonlik – selfs nadat ’n dokter vir my gesê het dokters ken dit en pasiënte het nie nodig om dit te lees nie.

Ek was twee weke gelede dokter toe met ’n vreeslike pyn in my voet. Hy skryf ’n bloedverdunner voor (ek het baie are op my voete) asook pynmedikasie wat ek glad nie ken nie.

Ek drink twee pille daagliks. Ek drink dit al ’n week lank.

Aan die begin van die tweede week kry ek kort-kort ’n steek in my oog (ek het net een). Die steek raak so irriterend – dit tas ook my visie aan – dat ek gister weer dokter toe is om te kyk of ek nie iets in my oog het nie. Niks.

Toe ek by die huis kom, moes ek weer ’n pynpil drink. Ek besluit toe om sommer eers die blaadjie te lees. Dit is ongelooflik hoeveel siektes hierdie pille kan veroorsaak terwyl dit een gesond maak.

Een daarvan is ’n ernstige probleem in jou oë wat gedeeltelike tot algehele verlies van visie kan veroorsaak.

Ek het dit nie weer gedrink nie en my oogprobleem is opgelos. Dié pil kan ook nier-, hart- en lewer- probleme veroorsaak en moet met omsigtigheid vir mense ouer as 65 gegee word, en hulle moet gemonitor word (ek is 77).

Ek sê nie hiermee dat ’n mens al daardie siektes kan kry nie, maar ek voel ons moet seker maak wat ons in liggame sit.


Helene KrugerE-pos

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article