Foto ter illustrasie.


Twee leerlinge by die Hoër Tegniese Skool Bellville sal op Maandag 12 Augustus dissiplinêr verhoor word nadat traangas op die skoolterrein afgevuur is. 

So het die woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) Bronnagh Hammond aan TygerBurger bevestig ná die voorval, wat op Donderdag 25 Junie plaasgevind het. 

Die voorval is gevolg deur ’n onverwagte besoek deur ’n parlementslid van die Economic Freedom Fighters (EFF), Ntsikelelo Tyandela, wat met ’n groep partylede by die skool opgedaag en geëis het om ‘n toesigbesoek by die skool uit te voer. 

Daar is berig dat Tyandela en sy gevolg toegang tot die skool geweier is nadat hy onmiddellike verantwoording en identifisering van die betrokke leerlinge vereis het. 

Hammond het op die LP se besoek gereageer en gesê: ”Terwyl ons die rolle van parlementêre toesig erken, kan ons nie blatante verontagsaming van ons reëls en regulasies aanvaar nie.”

EFF

Sy verduidelik dié EFF-lid en LP in die Nasionale Vergadering het op Maandag 29 Julie sonder enige afspraak of vooraf kennisgewing by die skool opgedaag. 

Hy het lede van sy politieke party saamgebring wat nie LP’s is nie, en het inligting geëis oor ‘n voorval wat die vorige week plaasgevind het. 

“Die groep het volle partypolitieke uitrustings gedra, wat ‘n duidelike oortreding van beide die Suid-Afrikaanse Skolewet en die Wes-Kaapse Provinsiale Skoolonderwyswet is,”

 verduidelik Hammond. 

Sy het bygevoeg die skoolbestuur het wel met die groep geskakel, “maar het nie persoonlike inligting ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting verskaf nie”. 

“Die voorval verlede week Donderdag het wel ‘n traangashouer behels wat in die skool geaktiveer is. Twee leerders is geïdentifiseer en word deur dissiplinêre stappe in die gesig gestaar. Die skool is ingevolge veiligheidsprosedures ontruim.”

Geen leerders is in die voorval beseer nie.

Traangas glo dié van polisiebeampte

Daar is ook berig dat die traangas wat ’n leerder op die skoolterrein gebring het, dié van sy pa is wat glo ’n lid van die polisie is.

Maar volgens die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder sers. Wesley Twigg, sowel as Bellville se polisiewoordvoerder lt.kol. Fienie Nimb, is geen saak by die polisie aangemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article