Die ma van die leerder sê hoewel hulle gehoor het die betrokke leerders is geskors, verskyn hul name nie op ’n skorsingslys by die skool nie. Foto: Foto ter illustrasie


’n Week nadat ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Tuscany Glen deur medeleerders aangerand en verneder is, het die polisie nog nie ’n verklaring by haar afgeneem nie.

Die leerder (haar naam is aan TygerBurger bekend, maar word weerhou om verdere viktimisering te voorkom) is in ’n klaskamer aangerand terwyl ’n ander leerder die aanval met ’n selfoonkamera afgeneem het. Daar kan gehoor word hoe ander kinders lag.

Die ma van die leerder, Michelle Linee (skuilnaam), sê hoewel hulle gehoor het die betrokke leerders is geskors, verskyn hul name nie op ’n skorsingslys by die skool nie.

“Ek is woedend en verwag aksie. Hierdie saak gaan ek nie sommer laat vaar nie, want my dogter is nou te bang om skool toe te gaan. Sy het dae aaneen gehuil. Buiten dat sy aangerand is, is die video van die voorval op sosiale media gedeel. Leerders by die skool lag nou vir haar,” sê Linee.

Sy sê haar interaksie met die polisie was ook nie veel beter nie. “Ons het reeds op 3 Augustus ’n klagte by die polisie ingedien en ’n saaknommer ontvang. Tot op hede het niemand nog ’n verklaring by my kind afgeneem nie. Of dink hulle ’n boelievoorval is nie misdaad nie?” wonder Linee.

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het by navraag gesê hulle is bewus van die voorval.

“Die skool was in kontak met die slagoffer se ouers en berading is beskikbaar vir die leerder. Die oortreder is geskors en ’n tugverhoor sal binnekort plaasvind. Die ouer van die leerder wat die video opgeneem het, is ook gevra om die skool te besoek,” sê Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD.

Kol. Dirk Rademan, bevelvoerder van die Kleinvlei-polisie, het gesê ’n saak van aanranding is aanhangig gemaak.

Linee het later laat weet dat ’n speurder haar gekontak het – ’n week nadat die saak aanhangig gemaak is – om met haar dogter te praat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article