Hagen Viljoen, Zevenwacht-keldermeester en senior wynmaker, met die trofeë vir drie klaswenners en beste produsent by die prysoorhandiging van die Investec Trofee-wynskou+.FOTO: Danie Nel Photography


Die Zevenwacht-wynlandgoed is as die suksesvolste produsent by die Investec Trofee-wynskou aangewys.

Die prysuitdeling van die hoogaangeskrewe wynskou, vanjaar in sy 22ste jaar, het verlede Donderdag (8 Junie) op die Delaire Graff-landgoed plaasgevind.

Hagen Viljoen, Zevenwacht se keldermeester en senior wynmaker, het met drie beste-in-klas-trofeë weggestap.

Die Zevenwacht Z Collection Sauvignon Blanc 2022 (gehout) het die Sunday Times-trofee vir beste sauvignon blanc gewen en die Zevenwacht Z Collection Chenin Blanc 2022 het die Harold Eedes-trofee vir beste chenin blanc, asook die Rosa Kruger-trofee vir beste oustokwyn (old vine) – gemaak van druiwe van gesertifiseerde wingerde ouer as 35 jaar – ontvang.

Dit was boonop die heel eerste keer dat Zevenwacht ’n trofee by die skou kon verower.

Zevenwacht is ook met twee silwermedaljes vir onderskeidelik die 2020 Cabernet Sauvignon en die 2021 Chardonnay beloon.

Die Z Collection is Zevenwacht se premium-reeks wyne. Die dubbeltrofeewenner, die kultivar chenin blanc, se druiwe kom van ’n wingerd wat in 1981 aangeplant is.

Geleentheid aangegryp

Viljoen is sedert 2018 keldermeester op Zevenwacht, waar hy ook vroeër in sy loopbaan as assistent-wynmaker gewerk het voordat hy vyf jaar hoofwynmaker by Solms-Delta was. Hy het ook ’n draai op Grand Provence, ook in die Franschhoek-omgewing, gemaak.

Hy was minder as ’n jaar by Grande Provence toe die pos by Zevenwacht oopgegaan het. “Ek het van 2011 tot 2012 op die plaas as assistent-wynmaker gewerk en bly glo aan die potensiaal van die wingerde en die plaas se terroir. Toe die geleentheid kom om die span te kan lei, het ek dit aangegryp,” sê Viljoen.

Hoewel Viljoen verantwoordelikheid kan aanvaar vir die wenwyne, sê hy daar is natuurlik baie spanwerk betrokke vanaf die wingerde tot in die kelder. Hy en Charles Lourens, medewynmaker, werk hand-aan-hand in die kelder en is albei baie trots op die prestasie.

Verskeie van Zevenwacht se wyne het tot dusver vanjaar al goeie uitslae in kompetisies behaal. Die Z Collection Chenin Blanc 2022, Z Collection Sauvignon Blanc 2022 en die Estate Chenin Blanc 2022 het almal dubbelgoud in Gilbert Gaillard (hoogaangeskrewe wyngids in Frankryk) se internasionale uitdaging behaal.

Die Z Collection Syrah 2022 het ’n plek onder die Top-10 van die Prescient Winemag Shiraz Report behaal, en die Z Collection Chenin Blanc 2021 het 95/100 by Decanter, die mees invloedryke wêreld-wyntoekennings, behaal.

Groot eer

Viljoen sê hul hele span is uiters trots op hul goeie prestasie by die trofeeskou. “Dit is ’n groot eer om uit al die ander uitstekende produsente as beste produsent gekies te word.”

Hy sê hulle het die laaste paar jaar hard daaraan gewerk om die Zevenwacht-handelsmerk na ’n hoër vlak te lig. “Dit is goed om te sien dat ons in die regte rigting beweeg. Baie geluk ook aan al die ander wenners.”

Altesaam 688 wyne is vir die trofeewynskou blind beoordeel en 36% van die wyne het geen medaljes ontvang nie. Enige medalje in die strawwe kompetisie is gesog onder produsente.

Altesame 19 beste in klas-trofeë, vier museumklas-trofeë, 32 goue medaljes, 86 silwermedaljes en 320 bronsmedaljes is toegeken.

Die beoordelaarspaneel het vanjaar drie internasionale beoordelaars gehad: Anne Krebiehl, ’n Duitse wynlektor en skrywer gebaseer in Londen; Benjamin Roffet van die Jules Verne-restaurant in Parys en ontvanger van die Meilleur Ouvrier de France Sommellerie; en Jancis Robinson, Britse wynmeester en invloedryke wynkritikus.

Die wenwyne (trofee-, goue en silwermedalje-wenners) kan geproe word by ’n geleentheid in die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum op Woensdag 21 Junie om 17:00. Kaartjies is by Webtickets te koop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article