Donnalee Block (11) is op Vrydag 9 Mei noodlootig gewond in ‘n skietery in Kalkfontein.

Die Kalkfontein-gemeenskap is onlangs deur die dood van ‘n 11-jarige meisie en ‘n vlaag van geweld geruk. In een bloedige naweek is drie mense in drie afsonderlike voorvalle dood en twee beseer.

In die eerste voorval, op Vrydag 9 Mei, is Donnalee Block (11), ‘n leerder van die Laerskool Kalkfontein, se lewe wreed kortgeknip toe ‘n onbekende man op die bakkie waarin sy agter saam met twee maats was, losgebrand het.

Volgens inligting wat deur die Kuilsrivier-polisie verskaf is, het die voorval omstreeks 19:30 in Brendastraat naby Dorothystraat gebeur. Die bestuurder van die silwer Isuzu Hilux-bakkie met ‘n kappie was naby die spoedhobbel in Brendastraat toe hy die skieter, wat beskryf is as ” ‘n onbekende bruin man in wit klere”, gesien het.

Twee skote is afgevuur en die bestuurder is in die skouer gewond.

Terwyl die bestuurder weggery het, is nog skote op die voertuig gevuur. Donnalee is in die kop getref. Volgens die polisie het die bestuurder toe aangery tot by die Karl Bremer-hospitaal, waar Donnalee dood verklaar is.

Volgens ‘n nabye familielid van Donnalee, met wie TygerBurger Maandag gesels het, is die man steeds in die hospitaal. Hy is blykbaar ‘n vriend van een van die maats (wat saam agterin die bakkie was) se ma. “Hulle sou nou en dan saam met hom ry – soos McDonalds toe of so,” sê sy.

Die familie is self nog onseker oor presies wat gebeur het en wil nie onnodig bespiegel nie. “Ons weet nie of die driver geteiken is nie.”

Die ander twee kinders is erg getraumatiseerd. “Die skool het gereël vir berading. Hulle vat dit regtig baie hard, want dit het voor hul oë gebeur.”

Sy sê die gemeenskap is omgekrap. “Ons is nie baie gelukkig met al die geweld nou nie. Dit was vir ‘n hele tydjie stil en toe skielik gebeur dit nou – Vrydagaand met haar en toe Saterdag nog mense. Vir ‘n naweek was daar baie dood in Kalkfontein.”

Sy vertel drie kerke het verlede week op straathoeke roudienste gehou. “Hulle probeer ook maar die gemeenskap moed gee, want mense is nie gelukkig met wat gebeur het nie.”

Vir Donnalee se ma het die werklikheid nog nie regtig ingesink nie, want “sy het nog kinders vir wie sy moet probeer sterk staan”, sê sy.

Donnalee se begrafnis het op Saterdag 24 Mei plaasgevind. Niemand is nog in verband met haar dood in hegtenis geneem nie.

Die polisie is op Saterdag 10 Mei omstreeks 21:00 na Hesterstraat uitgeroep, waar ‘n dubbele skietvoorval plaasgevind het. Gemeenskapslede het aan die polisie uitgewys waar ‘n man gesig onderstebo op die grond lê. Die oorledene is geïdentifiseer as Makro Pietersen (23). Hy het twee skietwonde in die rug gehad. Volgens die polisie is geen koeëldoppies op die toneel gevind nie.

‘n Tweede slagoffer, ‘n 28-jarige man, is sowat twee meter van Pietersen se liggaam gevind. Hy het in ‘n plas bloed gelê, maar het, ten spyte daarvan dat hy in die gesig geskiet is, nog asemgehaal. Toe hy gevra is wie hom geskiet het, het hy twee name aan die polisie genoem. Die man is na die Tygerberg-hospitaal geneem.

Die Kuilsrivier-polisie het bevestig twee mans is op Maandag 12 Mei in verband met die skietery in hegtenis geneem en dat die wapen gevind is. Die voorval word met bendes verbind.

Terwyl die polisie nog die Saterdagaand in Hesterstraat besig was, is hulle van nog ‘n voorval ingelig. Volgens gemeenskapslede was vermeende bendelede besig om iemand in die veld op die hoek van Dorothy- en Elmariestraat aan te rand.

Met die beamptes se aankoms op die toneel, omstreeks 21:30, het hulle op die liggaam van ‘n man met veelvuldige steekwonde aan sy gesig en nek afgekom. Die man is later geïdentifiseer as Maquel Jackson (22) van Kalkfontein.

Donnalee Block (11) is op Vrydag 9 Mei noodlootig gewond in ‘n skietery in Kalkfontein.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article