Die Laerskool Mikro se bestuur en beheerliggaam het verlede kwartaal gesprekke begin oor die moontlikheid om die skool se taal- en -toelatingsbeleid te verander.
Louis Mouton, skoolhoof het gister laat blyk dat daar nuwe inligting rondom die moontlike infasering van Engels is nadat die beheerliggaam op Maandag 5 Augustus vergader het. Hy het gesê ’n brief sou gistermiddag aan ouers uitgestuur word, sowel as aan die onderwysdepartement. Meer hieroor was nie voor druktyd beskikbaar nie – besoek TygerBurger aanlyn vir die jongste verwikkelinge.
Die proses is begin in die lig van voorgestelde wysigings aan die onderwyswetgewing, die sogenaamde Bela-wet (“Basic Education Law Amendment Bill”) wat nog deur pres. Cyril Ramaphosa onderteken moet word.
Die uitnodiging aan ouers ná ’n gespreksgeleentheid wat op 11 Junie by die skool gehou is, het vrae gemeld “wat elke ouer van ’n kind in ’n openbare skool soos Mikro kan vra” na aanleiding van die wetswysiging: Wat gaan hierdie wet vir openbare skole rakende die taalbeleid en die toelatingsbeleid van die skool beteken en hoe gaan die nuwe wet my kind se onderrig en opvoeding beïnvloed?
Die skoolsaal was die aand volgepak. Uit dr. Lou Hofmeyr, voorsitter van die beheerliggaam, se videoboodskap en Mouton, skoolhoof, se aanbieding was dit duidelik dat die wetswysigings nie die enigste oorweging vir infasering van Engelse klasse by die skool is nie.
Die skool was in 2005 landwyd in die nuus toe dit ’n hofuitspraak geverg het om die Afrikaans-enkelmediumstatus te kon behou. Hofmeyr het genoem dat die dorp en omgewing oor die laaste 20 jaar verander het. “Dit mag wees dat die skool se kultuur en die atmosfeer oor die jare verander – ons glo dit mag dalk ten goede wees. Weet asseblief dat dissipline en die behoud van standaarde vir ons ekstreem belangrik is.”
Hy het erken die regering se taalbeleid bring onsekerheid.
Van die bekommernisse wat hy uitgelig het, was leë stoele in klaskamers, drukgroepe wat hul hand mag forseer, en die skool se finansies wat daartoe kan lei dat beheerliggaamposte gesny moet word en ander addisionele aktiwiteite kan wegval.
Oorwegings
Mouton het genoem dat die provinsiale onderwyshoof wat oor die taalbeleid en toelatingsbeleid van ’n skool moet besluit, sal kyk na: die huidige beleid van die skool; of dit in die beste belang van elke kind in die skool is; die taalprofiel van die skool; die taalprofiel van die gemeenskap waarin die skool geleë is; die skool se kapasiteit (hoeveel leerders dit kan akkommodeer) en die beskikbare hulpbronne van die skool.
“Daar is wetgewing wat sê die onderwyshoof moet elke drie jaar die taalbeleid hersien of soos omstandighede verander of wanneer dit deur die hoof van onderwys versoek word.”
Mouton het gesê die onderwysdepartement vra al geruime tyd vrae oor Mikro se Afrikaans-enkelmediumstatus: “Is die skool vol? Hoe het die gemeenskap waarin die skool is, verander? Dien die skool nog die veranderde gemeenskap?”
Hy het daarop gewys dat Mikro se leerdertalle sedert 2017 van 1 011 tot 849 vanjaar gedaal het ten spyte van voordurende pogings om die skool te bemark.
Mouton het toe gesê dat na die onderwysdepartement se streekkantoor uitgereik het om die water te toets oor die moontlikheid om geleidelik Engelse klasse te begin infaseer. “By monde van die kringbestuurder van Metro-Oos was hulle oorwegend positief. Die wat al lank hier in die dorp is, sal weet dat daar ’n groot tekort (aan plek in skole) vir Engelse kinders in die omgewing is.”
Mouton het by Hofmeyr aangesluit oor die invloed wat finansies kan hê. Tans word 28% van die skool se begroting weens slegte skuld of skoolfondskwytskelding afgeskryf.
Hy het ouers verseker dat standaarde en waardes ononderhandelbaar is. “Ek hoor baie ouers sê ‘my kind sal in Mikro wees, want hier is waardes; dit word toegepas; hier is nog respek’.”
Hy het gesê sterk leierskap en doeltreffende stelsels sal verseker dat hoë standaarde en waardes behou kan word.
Mouton het uitgelig dat daar verskeie funksionele dubbelmediumskole in die omgewing is soos die laerskole Bastion, Brackenfell en Gene Louw.
Raadpleging
Die beheerliggaam het na hul eerste vergadering van die nuwe kwartaal (24 Julie) in hul omsendbrief aan ouers genoem geen oorhaastige besluite sal geneem word nie en dat ouers se kommentaar en insette oorweeg word.
Dit het gemeld dat daar toe nog geen formele skriftelike versoek aan die onderwysdepartement gerig is om Engelse leerders in 2025 in te neem nie.
Die beheerliggaam het benadruk dat die moontlike toevoeging van onderrig in Engels nie beteken Afrikaanse onderrig gaan wegval nie.
Daar is gemeld dat relevante organisasies genader is om genoegsame statistieke oor die voor- en nadele van die moontlike verandering te bekom.
Die beheerliggaam het gemeld dat hulle, soos nodig, met die Wes-Kaapse onderwysdepartement sal saamwerk, asook die nodige beleide in plek sal kry, sodat enige besluit wat geneem word, ook aan wetlike vereistes sal voldoen.
Dit het ook beklemtoon dat die redes vir ’n moontlike Engels-infasering nie beperk is tot die moontlike ondertekening van die Bela-wetgewing nie, maar ook weens dalende Afrikaanse leerdertalle; druk van die onderwysdepartement; finansiële uitdagings; ’n toename in Engelse leerders in die omgewing en ’n gemeenskap wat voortdurend verander.
Die beheerliggaam het ook die Federasie van Skoolbeheerliggame van SA (Fedsas) gekonsulteer vir leiding in die hantering van die proses.





