
In Suid-Afrika is daar voortdurende kommer oor die swak leesvermoë van skoolgaande kinders, veral dié wat met sosiaal-ekonomiese kwessies soos armoede en honger sukkel.
Wanneer kinders honger is, het hulle gewoonlik minder energie en vermoë om te fokus. Te midde van hierdie krisis gaan Ladles of Love in Maart voort met die Love Book-veldtog om honger kinders se mae te vul en vir elke kind ’n boek te gee om te lees.
Die Love Books-veldtog het ten doel om voeding met lees te koppel deur geld in te samel om te verseker dat 5 185 klein kindertjies in 57 vroeëkinderontwikkelingsentrums in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Gauteng in 2024 toegang tot kos en boeke het.
Een van die eerste sentrums wat boeke deur hierdie veldtog ontvang het, is die Sunflower Educare-sentrum. Hierdie organisasie veg vir die kans om die mees kwesbare en gestremde kinders in Delft te voed en op te voed. Met die ondersteuning van Ladles of Love kan hulle die bietjie geld gebruik om hierdie kinders op te voed, te koester en te laat groei.
‘Readers are leaders’
Beverley Roberts sê sy voel baie opgewonde oor die boeke-prys wat die sentrum ontvang het, want sy meen kinders in Delft kom in laerskole, dan kan hulle nie lees of spel nie. “As ons die kinders kan bemoedig om ’n liefde vir lees te kry, dan is dit wonderlik. Want readers are leaders,” sê Roberts.
“Baie kinders het nie eens respek vir ’n boek nie, so ons moet al daardie goed instel sodat ons hulle die waarde van boeke kan laat verstaan. Ons biblioteke is leeg, want die kinders ken nie die waarde van boeke nie,” verduidelik Roberts.
“Sun Flower Educare maak ’n groot impak in die gemeenskap. Ons begin by die kind en dan betrek ons die ouer, so die ouer speel ’n groot rol.”
Gesamentlike taak
Volgens Roberts betrek hulle die ouers, want dit is nie die sentrum se verantwoordelikheid alleen nie.
“Ons kan nie opvoeding gee wanneer daar nie dissipline is nie, so wanneer ons vergadering hou, dan is die ouers betrokke. Die ouers moet verstaan, dit is ’n gesamentlike taak. Dit is soos ’n driehoek – die onderste twee hoeke is waar die onderwyser en ouer inkom. En heel bo is dan die kind. Ons is die platform vir daardie kind,” verduidelik Roberts.
Volgens Roberts betrek hulle ook die gemeenskap. Hulle deel gereeld kos uit en wanneer kinders in die gemeenskap sien hoe die ander aktiwiteite doen, dan staan hulle ook nader.
Die sentrum het tans 32 leerders.
“Ek kan met trots sê ons maak ’n groot impak, want as ’n kind Sun Flower Educare verlaat, gaan ons verhouding met hom voort. Die ouers deel die kinders se mylpale met ons,” sê sy.




