Kyk uit vir sakkerollers by sentrums: Prokureur se selfoon binne minute gesteel

(Pixabay)


Hulle hou jou fyn dop, wag vir jou waar jy by winkels en ander besige plekke rondloop, en wanneer jy dit die minste verwag slaan die sakkerollers toe.

Hulle gebruik slinkse maniere om waardevolle besittings soos beursies en selfone uit sakke en kledingstukke te steel.

Eers veroorsaak hulle dat jou aandag afgetrek word, soos om aan jou te stamp of deur te struikel en te val voor hulle blitsvinnig jou sakke leegmaak. In winkels reken hulle ook daarop dat jy meer aandag gee aan jou inkopies as jou beursie.

Dit blyk ook dat dié misdryf al hoe meer algemeen voorkom.

Sunél Beeselaar, ’n prokureur van Brackenfell, het verlede week onder die skelm vingers van twee sakkerollers by die Soneike-winkelsentrum deurgeloop.

“Ek het met my selfoon in my hand winkel toe gestap en dit in my baadjiesak ingeglip toe ek instap. Ek het eers ’n sak piesangs gekry en van daar na die melkrak toe gestap. Ek het verby twee vroue gestap wat langs mekaar gestaan het. Hulle het al twee swart klere aangehad, wat amper soos uniforms gelyk het en ek het niks daarvan gedink nie.

“Een het met ’n trollie geloop. Die een vrou stamp my toe amper van my voete af en ek moes tussen die trollie en die ander vrou deurdruk; dis seker toe dat hulle my foon uit my sak gesteel het,” vertel Beeselaar.

“Dis toe ek vir haar sê sy is ongeskik dat iets in my gekliek het, maar ek was nie seker wat nie. En toe ek by die kassier kom om te betaal, besef ek my foon is weg.”

Die Kuilsrivier-polisie het Beeselaar later ingelig dat daar ’n blindekol in die uitsig van die sekerheidskamera in die melkgang is.

“Hulle moes geweet het dat die kamera hulle nie daar sou sien nie. Ek was nie eens ’n minuut in die winkel toe dit gebeur het nie,” sê sy.

Die winkelbestuurder en hoofkantoor van die betrokke kettingwinkel het Beeselaar gekontak om om verskoning te vra en haar te verseker dat sekerheid opgeskerp sal word.

Sy sê sy sal egter nie sommer gou weer die winkelsentrum besoek nie.

“Dit was ’n skok toe ek ná die tyd van mense by die selfoonwinkel in dieselfde sentrum moes uitvind dat dié misdaad baie gereeld in die winkelsentrum plaasvind. Dit laat my vermoed dat die diewe nie alleen nie, maar in ’n sindikaat werk,” sê sy.

“Hulle was so vinnig, toe ek minute later na my foon bel, was dit reeds af.”

Geen klagtes ontvang nie

By navraag het Roux van Zyl, besturende direkteur by die Ipic Groep, eienaars van die Soneike-winkelsentrum aan TygerBurger gesê dat hulle die veiligheid en sekerheid van hul inkopiegangers baie ernstig opneem en daartoe verbind is om ’n veilige omgewing te bied.

Volgens hom het die groep voor die voorval nog geen formele verslae of klagtes oor sakkerollery by die winkels ontvang nie, maar dat hulle ondersoek sal instel.

“Ons het hande geneem met ons plaaslike sekerheidsdiensverskaffer, Titanium Securitas, en het die Project Overwatch-inisiatief gemotiveer om die veiligheid en welstand van ons kliënte en huurders te verseker. Project Overwatch is ’n toesigstelsel en ’n aansienlike verbetering van ons CCTV-hardeware by al ons sentrums. Kameras sal 24 uur per dag vanaf ’n afstand gemonitor word. Die beheerkamer sal in kommunikasie met wagte by die sentrum wees, en sal ook gewapende-0reaksie en mediese personeel na die terrein kan ontplooi wanneer nodig.

“Ons wil hê ons kliënte moet veilig voel wanneer hulle ons winkelsentrums besoek en ons poog om sulke voorvalle te minimaliseer,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article