Honderde Springbok-ondersteuners het op Woensdag (11 September) geduldig tou gestaan om party van hul gunstelling Springbokspelers te ontmoet.
Die Springbokke het handtekeninge by die Sportman’s Warehouse in Bill Bezuidenhoutweg, oorkant die Tygervallei winkelsentrum, uitgedeel.
Die geleentheid is wyd op sosiale media aangekondig met die belofte om Bokke-bekendes, soos Cheslin Kolbe, Sacha Feinberg-Mngomezulu, Canan Moodie, Damian de Allende, Willie le Roux, Kurt-Lee Arendse en Manie Libbok, te siene te kry.
Hoewel mense buite in die sentrum se parkeerarea ewe gedwee en geduldig tou gestaan om hul beurt af te wag, was dit binne die winkel ’n rumoerige gedruis.
Tientalle aanhangers het teen ’n muur van winkelbestuurders en lyfwagte gestoei om ’n nabye blik van die Bokkies te kry.
Die TygerBurger het buite met die geesdriftige Tsidiso Motsoahae (32), van Plattekloof, gesels. “Ek is vandag hier vir al die Bokke, veral vir Cheslin Kolbe. Hy was onse absolute shining star in die wêreldbeker-rugby met daai side-step wat hy gemaak het teen Frankryk. En so ook vir die nuwe crush van Suid-Afrika – Sacha Feinberg-Mngomezulu,” het hy gesê.
Of elke liewe ondersteuner wat in Tygervallei tou gestaan het hul gunstelling Bok te siene gekry het is, is ’n onwaarskynlikheid. Maar een ding is vir seker – hierdie ondersteuners se bloed in hul are klop beslis in groen-en-goud!





