Terwyl die Wêreldbeker-kriekettoernooi Saterdagaand by Annie’s Ladies Bar op die televisie vertoon is, het die kok Michael Steyn dié gatsby-bielie gebou, terwyl Annie agter die toonbank die souse aanmekaar geslaan het.

Heleen Boshoff

‘n Gatsby só groot dat dit ’n moontlike wêreldrekord losslaan, het Saterdagaand 29 Julie meer as 100 ooggetuies by Annie’s Ladies Bar in Stikland gevoer.

Hierdie bielie-brood wat die skaal op ‘n yslike 65,3 kg getrek het, is deur die kroegeienaars Annie Redelinghuys, haar man, Joe, en kok Michael Steyn opgedis.

Dié gatsby het ’n elle lange 3 m in lengte gestrek wat alles van die beste bestanddele bevat het, soos blaarslaai, tamaties, polonie, beesvleis-frikkadelle, masala-steak, hoenderfilette, calamari-repies, verskeie lae slaptjips, souse, en gebakte eiers.

Dit alles is bymekaar gehou deur vier yslike brode wat spesiaal vir die geleentheid gebak is deur Checkers Hyper Brackenfell.

Ons het gesukkel om ’n bakkery te kry (of ’n oond wat groot genoeg is) om die brode te bak.

“Ons het gesukkel om ’n bakkery te kry (of ’n oond wat groot genoeg is) om die brode te bak. Dus het die bakkery dit spesiaal net vir ons gebak – so groot as wat dit moontlik kon wees,” sê Redelinghuys.

Die minimum koste om die gatsby op te dis, is teen ongeveer R3 250 geskat.

Die Redelinghuys-egpaar glo dit is ’n Suid-Afrikaanse (of selfs wêreld-)rekord vir die grootste gatsby wat ooit geskep is, maar die poging is nie onafhanklik beoordeel of gemeet aan ’n amptelike standaard nie.

“Ons het ons eie navorsing gedoen en opgemerk dat die grootste gatsby op rekord ’n gewig van ses kilogram iewers in die Kaap opgelewer het. Ons was oortuig ons sal dit ver kon oorskry,” meen Redelinghuys.

TygerBurger se pogings om ’n ander rekord te vind was onsuksesvol.

Die egpaar het hul sukses met ’n groot feesmaal gevier, wat gratis met meer as 100 ooggetuies gedeel is.

Dit is die derde rekord-maaltyd wat deur Annie’s opgedis is, maar dit was die eerste poging tot ’n gatsby.

“In 2019 het ons, waarna mense as die grootste burger in die land verwys, geskep, wat ’n totale gewig van 79,5 kg gelewer het. Hy het ’n 40 kg-frikkadel gepak met ’n deursnee van 800 mm en ’n tuisgemaakte broodjie wat ons self gebak het.”

’n Paar jaar later het Annie’s hul eie rekord oortref deur ’n burger dubbeld so groot te maak, wat bestaan het uit twee 40 kg-frikkadelle. Die bielieburger het die skaal op 123 kg laat kreun.

Vir Annie is dit net nog getuienis van die harde werk wat hulle doen om hierdie Stikland-kuierplek in die kollig te plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article