Gavin du Plessis


Die werk van ’n kunstenaar van Parow-Noord is onlangs in Londen, Engeland, uitgestal en uitverkoop.

Die kunstenaar, Gavin du Plessis (71), is ’n inwoner van Huis Uitsig in Parow-Noord.

Tiaan van Deventer, eienaar van Kingsbridge Art in Bellville, wat ook Du Plessis se werke uitstal, het hom verlede maand gekontak om met Du Plessis dié goeie nuus te deel – dat sy kunswerke wat oorsee gestuur en uitgestal was, alles verkoop is aan ’n anonieme koper.

“Ek was heeltemal verbaas en verheug,” het Du Plessis ten tye van die oproep gesê.

Du Plessis het finansieel gesukkel, en sê dit was moeilik om gemotiveerd te bly, veral wanneer jy bekommerd is oor geld.

Hy het Van Deventer bedank, sowel as sy kontak in Londen, Geert Oliver, wat die kunsverkoping moontlik gemaak het.

Oliver het ’n passie daarvoor om Suid-Afrikaanse kunstenaars se werke in Engeland te bemark, en het belangstelling getoon in Du Plessis se werke nadat Van Deventer hom daaraan bekend gestel het.

Altesame agt kunswerke van Du Plessis is oorsee geneem.

“My kunsloopbaan het in 1964 begin toe ek begin het om met verf en collage te eksperimenteer; ek was 12 jaar oud toe my roeping begin,” sê hy.

Studies

“Nadat ek in 1970 gematrikuleer het, is ek na die Kaapstadse Technicon om skone kuns te studeer met skilder as hoofvak. Ek was by die instansie van 1971 tot 1973. Daarna het ek in Engeland by Croydon College of Design and Technology gestudeer, waar ek teaterdekor- en kostuumontwerp van 1974 tot 1977 bestudeer het,” sê Du Plessis aan TygerBurger.

In die jare negentig het hy sosio-politiese kortverhale geskryf, asook as kunsjoernalis vryskutwerk gedoen. “Ek is tans besig om kunsverwante filosofiese essays te skryf.”

Du Plessis het oor die jare heen reg oor Suid-Afrika uitgestal.

Tans kan kunsliefhebbers sy werke by die munisipale kunsmuseums in Lichtenburg en Polokwane besigtig.

“Plaaslik kan my werk besigtig word by die Sanlam-kunsversameling en die US Kunsmuseum in Stellenbosch.

“Werke is ook te koop by Kingsbridge Art, die Gemeenskapskerk Parow-Noord, die voorportaal van die hoofgebou by Huis Uitsig, asook by Art.b se lede-uitstalling by www.artb.co.za,” sê hy.

Sedert Du Plessis se verkope is nóg ’n plaaslike kunstenaar se werke ook deur Van Deventer in Engeland verkoop.

“Ek dink dis belangrik vir Suid-Afrikaanse kunstenaars om groot te dink en te besef dat hulle deel is van ’n groter internasionale gemeenskap, en dat daar geen beperking is op wat hulle kan bereik nie. Kuns kan deure vir jong en ouer kunstenaars oopmaak, wat hulle self nie eens kon verbeel het nie,” sê Van Deventer.

Kontak Kingsbridge Art by 082 812 8545 of info@kingsbridgeart.co.za vir inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article