Wat net ‘n rit huis toe moes wees, het verlede week in ‘n nagmerrie vir ‘n jong vrou van Kuilsrivier ontaard.
Denusha Nicholas (26), ‘n onderwyseres by die Laerskool Vlottenburg in Stellenbosch, vertel sy het Donderdag 28 Augustus omstreeks 15:00 ‘n Uber-rit bespreek wat haar by die skool moes oplaai.
Die bestuurder was binne 12 minute daar, sê sy.
Sy het ingeklim, maar dadelik ongemaklik gevoel.
“Sy kar was in ‘n haglike toestand, baie vuil en het gestink – hyself was ook baie vuil.”
Nicholas vertel die bestuurder wou eers ‘n afrit neem in Eersterivier se rigting. Sy moes hom daarop wys dat sy Kuilsrivier toe wou gaan.
“Ek het my ma in kennis gestel dat ek nie veilig voel nie en my rit toe verander om eerder net tot by Zevenwacht Mall te gaan – die naaste plek waar ek veilig sou wees.”
Dreigend
Toe sy die bestuurder inlig dat sy eerder net tot by die winkelsentrum wou gaan, het hy blykbaar beweer dat hy nie Engels verstaan nie.
“Ek en hy het begin stry en hy het toe die deur gesluit. Ek het hom gevra hoekom sluit hy dit, toe sê hy: “You going to see what’s going to happen now.”
Sy kon die deur self oopsluit, maar die bestuurder het weer die deure en vensters gesluit, vertel sy.
“Dit is toe dat ek besluit het ek moet spring.”
Al het sy agter gesit, het die bestuurder haar aan die been gegryp, vertel sy.
Op die Polkadraaipad kon sy daarin slaag om uit die bewegende motor te spring.
“Ek was vir ‘n paar sekondes uit. Toe ek bykom, het ek besef ek moet hardloop vir my lewe.”
Genadiglik het twee mans wat ook op die pad onderweg was gesien hoe Nicholas uit die voertuig val. “Die Uber-man het weggejaag,” sê sy.
Beseer
Nicholas sê die twee mans het hulp verleen, maar kon haar nie hospitaal toe neem nie. “Hulle het my afgelaai by ‘n plaastannie se huis, waar my broer my toe kom haal en na Netcare Kuilsrivier-hospitaal geneem het.”
Sy was sowat sewe ure in die hospitaal. Buiten haar kop, nek en gewrig wat seergekry het, het sy albei haar knieë nerf-af geval en is haar lyf oortrek met kneusplekke.

Nicholas het die voorval by Uber aangemeld en ‘n klagte van poging tot ontvoering by die Kuilsrivier-polisie ingedien. Sy is Vrydag in kennis gestel dat die saak na die Stellenbosch-polisiekantoor oorgeplaas is.
“Uber het my Saterdag gekontak. Hulle het die rit se geld vir my terugbetaal in my rekening en hul wetstoepassingseenheid ondersoek ook die klagte.”
Dossier
TygerBurger het Maandag ‘n navraag per e-pos aan Stellenbosch-polisie se skakelbeampte gestuur, maar geen antwoord ontvang nie.
Lt.kol. Nokwanda Harmans, waarnemende bevelvoerder van Kuilsrivier-polisie, het Maandag bevestig ‘n klagte van poging tot ontvoering is in Kuilsrivier aangemeld en oorgeplaas na Stellenbosch.
Harmans het toe gesê die Stellenbosch-polisie het aangedui dat die saak (Maandag 1 September) oorgeplaas is na Klapmuts-polisie aangesien dit “nie in hul polisiëringsgebied val nie” (wat nie die geval is nie).
*TygerBurger het intussen verneem die verwarring oor die moontlike verwysing van die dossier na Klapmuts, spruit uit ‘n boodskap wat verkeerd deur ‘n polisieklerk by die Kuilsrivier-polisie aan die waarnemende stasiebevelvoerder, Harmans, oorgedra is. Die boodskap het blykbaar op ‘n ander dossier betrekking gehad wat wél bestem was vir Klapmuts.
Die korrekte dossier is egter, volgens die Kuilsrivier-polisie én die SMS-boodskap wat Nicholas ontvang het, op Vrydag 29 Augustus na die Stellenbosch-polisie oorgedra.
Nicholas het teen Dinsdag-oggend steeds nie ‘n nuwe saaknommer ontvang nie. Volgens haar is die dossier by Stellenbosch-polisie, maar sukkel sy ook om terugvoering te kry.
‘n Senior beampte by Klapmuts-polisie het ontken dat die dossier by hulle is. Stellenbosch-polisie het Dinsdag op ‘n WhatsApp-boodskap reageer en gesê die polisiekantoor se “stelsel is af”.
Uber reageer
Uber het (Dinsdag 2 September) in ‘n mediaverklaring gesê dat hulle die voorval baie ernstig opneem en die versekering gegee dat hulle alles in hul vermoë sal doen om die ondersoek te ondersteun en kliënte se veiligheid te verseker.
Nicholas sê Uber het haar Maandag weer gekontak en dat sy beïndruk is met hul diens en ondersteuning.
Volgens Uber werk hul toegewyde veiligheidsreaksiespan (Public Safety Response Team) nou saam met wetstoepassingsowerhede om inligting so vinnig moontlik aan die owerhede oor te dra.
“Hierdie span werk saam met die polisie om die ondersoek te steun,” lui die verklaring.
Uber
“Die veiligheid van elkeen wat ons platform gebruik, bly ons topprioriteit. Geen kriminele gedrag word geduld nie. Enige bestuurder wat ons riglyne oortree, sal van die platform verwyder word.”
Uber sê hulle volg ‘n deeglike keuringsproses voordat bestuurders aanvaar word — dit sluit die nagaan van agtergrond en misdaadrekords in.
Om passasiers en bestuurders te beskerm, bied die toepassing verskeie veiligheidsfunksies, soos ‘n noodhulpknoppie (Emergency Assistance Button) wat gebruikers met een aanraking met privaat sekuriteits- en mediese dienste verbind — wat, volgens Uber, binne minute op die toneel sal wees.
- Die berig is op Dinsdag 2 September aangepas om Uber se antwoord op TygerBurger se navraag in te sluit.







You must be logged in to post a comment.