Vriende en werkers van “Kuils River, Our Beautiful Town/Ons Mooi Dorp” het verlede Woensdag 13 Desember ’n gesellige byeenkoms aan huis van Wilma Matthee gehou.
Lizette Wilson, wat aan die stuur van die inisiatief staan, sê Perkins Mukarakate, Norman Mukarakate, Kelvin Tamwa en Feston Kaninga, die werkers wat grootliks verantwoordelik is vir die sukses van die projekte, was die eregaste by die geleentheid.
Van die mooimaak-projekte en beddings wat sedert Junie verlede jaar aangepak is, sluit in Confettibushstraat (nr. 1 en 2) Koringblomstraat se “verwelkomingsbedding”, aanplantings op Bottelaryweg-sypaadjie by Soneike, skoonmaak en aanplantings by Bucksingel agter Zevenwacht-winkelsentrum, beddings by die Hoërskool De Kuilen se ingang, en die versorging van die plante in Amandelweg se “rooibande”.
Barend la Grange, bedryfshoof van die Privilege-stigting, wat hom daarvoor beywer om dorpe by te staan om hulself te herstel, het gesê dit was ’n voorreg om die span se werk en suksesse saam met die span te vier.
“Hulle verdien lof en al die ondersteuning vir hierdie inisiatief en harde werk om hul deel te doen om van Kuilsrivier – my ou home town van 10 jaar – ’n spogdorp te maak.
“Die uitdagings bly groot, maar die raadslid Wouter de Vos toon weer eens dat die gemeenskap en plaaslike regering uitstekend kan saamwerk om gemeenskaplike doelwitte te bereik,” het La Grange gesê.. Kontak Lizette Wilson via WhatsApp by 083 284 6959 as jy ’n bydrae wil maak. Vind Kuils River, Our Beautiful Town/Ons Mooi Dorp op Facebook.





