Vroeër vanjaar het Enrico Hartzenberg van Sarepta se produksiemaatskappy Hartzenberg Films se eerste kortfilm Sister Dinges by die Johannesburg- Filmfees gedebuteer.
Op Sondag 16 Junie het die film ook plaaslik erkenning gekry toe dit aangewys is as beste kortfilm by die eerste Cape Flêts Fillim Fees, wat by die Academia-teater in Lansdowne gehou is.
Die nuwe filmfees is aangebied deur Gemini Twin Films met ondersteuning van die Nasionale Film- en Videostigting.
Filmmakers kon gratis inskryf en 28 inskrywings is ontvang.
Hartzenberg sê hy was vooraf senuweeagtig want hy het nie geweet wat om te verwag nie.
“Die gehoor het groot aanklank by die film gevind. Ek was baie bly om die toekenning te kry. Ek het in trane uitgebars omdat dit my eerste kortfilm is, en oor die sentimentele waarde omdat my ma daarin is.”
Inspirasie
Hartzenberg het voorheen vertel die verfilming van Sister Dinges het verlede jaar kort ná sy ma se dood begin.
Ná ’n gesprek met Thabani Makanza, die regisseur, het hulle besluit om die storie aan te pas. Foto’s van sy ma is in die film gebruik as verwysing na die hoofkarakter se oorlede ma.
Die film handel oor Marshall, ’n jong gay man wat rou en in ontkenning is ná die dood van sy ma.
Vir Hartzenberg is die film ook ’n ode aan sy ma wat hom altyd teen homofobiese aanvalle beskerm het.
LEES | Boorling van Sarepta opgewonde om teaterstuk aan sy gemeenskap op te voer
Hy vertel hy het onlangs nóg ’n kortfilm klaargemaak waarin hy ook sy debuut as regisseur gemaak het.
“Ons werk tans aan nog ’n kortfilm wat moontlik in Augustus bekendgestel sal word.”
Daar is ook ’n teaterstuk in September in die vooruitsig.
Sister Dinges sal binnekort in Sarepta vertoon word, maar die reëlings moet nog gefinaliseer word.
Vroeër vanjaar het Enrico Hartzenberg van Sarepta se produksiemaatskappy Hartzenberg Films se eerste kortfilm Sister Dinges by die Johannesburg- Filmfees gedebuteer





