Inwoners van Jagtershof is nie net raadop met die veiligheidsrisiko wat ’n oorgroeide stuk grond tussen dié woonbuurt en St. Dumas skep nie, maar ook omdat herhaalde versoeke om dit skoon te maak, skynbaar van bakboord na stuurboord gestuur is.
Dit is veral die inwoners van Foxhoundstraat – wat parallel met die oop grond loop – en omliggende strate, wat hande in die hare is.
André Smith, wat sedert 2016 op die hoek van Foxhound- en Brunostraat woon, sê die Port Jackson-boompies wat so geil groei op die grond, is seker twee jaar laas gesny.
Hy betaal gereeld iemand om naby sy huis skoon te maak as dit “te morsig” begin lyk.
By sy huis op die punt van die straat, word daar dikwels om hulp aangeklop. Smith weet van ’n rits voorvalle waarin mense wat deur die gebied geloop het, beroof of aangerand is.
’n Bosslaper wat aangerand is, het onlangs weer kom hulp soek, vertel hy. “As my vrou gaan wasgoed ophang hier agter, word daar gevloek en geskel. My kinders speel glad nie meer op die trampolien buite nie. Ek het ’n hond hier agter gesit om ons oë en ore te wees.”
’n Onaangename verrassing het hom verlede jaar, ná hy op ’n Saterdag gaan rugby kyk het, met sy tuiskoms ingewag.
“Toe lê hier ’n ou plat voor my hek … dood.” Smith vermoed een van die bosslapers het die man gesteek, wat toe by sy huis om hulp wou vra.
“Ek het daarna vir (wyksraadslid Kariena) Maré ’n e-pos gestuur oor die gevaar wat die boompies inhou. Hier gebeur baie aanvalle.”
Daar is perdekarretjies wat in die gebied kom, wat rommel stort, sê Smith. “Van die inwoners gee vir hulle goed, dan ry hulle hier af versteek tussen die bosse, en soos hulle ry, gooi hulle die goed af. As die bosse so ruig is, vat mense meer kanse.”
Onlangs terwyl hy uitstedig was vir werk, het een van die buurtwaglede vir hom laatnag ’n foto aangestuur van bosslapers, wat net agter sy huis vuurmaak.
Smith sê inwoners se versoeke om die grond skoon te maak “word heeltyd rondgegooi” terwyl hulle verontrief word.
Hoop beskaam
Ulricke Europa, wat net ’n paar huise van Smith af woon, het verlede jaar (namens haar gesin en ander inwoners) met Maré kontak gemaak. Maré het wel die saak met verskeie stadsamptenare en lyndepartemente opgeneem. Helaas het daar op grondvlak nie veel gebeur nie, sê Europa.
In van die korrespondensie met Europa oor die afgelope jaar, was daar sprake dat die grond op ’n lys van die Stad geplaas is (of sou word) om skoongemaak te word. Daar is ook melding gemaak dat die oordrag van grond van die Stad aan die provinsiale regering blykbaar teen Desember laas jaar nog nie afgehandel was nie.
In Desember is plantegroei naby die sypaadjie aan die rugbyklub se kant wel korter gesny, sê Europa. Enige hoop dat die res van die oorgroeide grond in die nuwe jaar getakel sou word, het intussen heeltemal verdwyn.
Europa sê hulle het hul erf se muur met drie meter verhoog, maar hulle lê gereeld snags wakker omdat die honde aanhoudend vir ’n rumoer in die bosse agter die muur blaf.
Jeanne de Villiers, voorsitter van die Langverwacht and Surrounds Safety Watch, sê die buurtwag ontvang weekliks oproepe vanuit die gemeenskap oor rumoerigheid, mense wat oor mure klim of vuurmaak en ander aktiwiteite in die nagtelike ure in die bosse.
“Dit is beslis ’n veiligheidsrisiko vir ons gemeenskap. Ons verstaan die grond is geoormerk vir twee skole en dat die grond onlangs van die Stad Kaapstad na die provinsie oorgedra is.”
De Villiers sê dit lyk of daar ’n “hy sê, sy sê-debat” is oor wie nou eintlik finansieel verantwoordelik is om die bosse te laat verwyder.
Pad
’n Deel van die grond tussen Jagtershof en St. Dumas is bestem vir die toekomstige verlenging van Saxdownspad tussen Langverwachtpad en Van Riebeeckweg.
In November 2021 het die Stad aangekondig dat dié fase van die verlenging vir die 2023-24 boekjaar teen ’n geskatte koste van R79 miljoen begroot is.
TygerBurger het by die Stad navraag gedoen of hy kan aandui wanneer die konstruksie aan die pad gaan begin, maar wag steeds op ’n antwoord.
Die res van die grond – tussen die padreserwe en Foxhoundstraat – was voorheen alles deel van die ‘‘oorblywende Erf ST235, Stellenbosch-plase’’. Dit is intussen onderverdeel, met ’n kleiner gedeelte regoor die laaste paar huise in Foxhoundstraat (tussen Bruno- en Magnumstrate), wat steeds as Erf ST235 bekend is.
Vermoedelik val die nou kleiner Erf ST235 steeds onder die Stad. TygerBurger se navraag om dit te laat bevestig en of die erf binnekort skoongemaak sal word, is teen druktyd nog nie beantwoord nie.
Skole
Volgens ’n kaart van die Stad is die grootste gedeelte van die voormalige groter Erf ST235 (in lyn met Magnumstraat tot onderkant Jagtersstraat) hernoem na Erf 26151. Dié erf is intussen aan die provinsiale regering oorgedra.
Luidens ’n verslag van die provinsiale departement van vervoer en openbare werke is die stuk grond geoormerk vir die bou van ’n laerskool vir 1 250 leerders en ’n hoërskool vir 1 500 leerders, sportgeriewe en parkering ingesluit.
Die verslag meld dat die Saxdownspad, vanaf Langverwachtpad tot by Jagtersstraat (oorkant die Kuilsrivier-rugbyklub) voltooi moet wees alvorens die skole in gebruik geneem sal kan word, omdat Jagtersstraat nie geskik is om die druk verkeer te hanteer nie.
David Maynier, provinsiale onderwysminister, het in November verlede jaar op ’n navraag van TygerBurger gesê die plan is dat die konstruksie van die skole teen middel 2024 sal begin en teen einde 2025 voltooi sal wees.
Op TygerBurger se onlangse navraag het Maynier se woordvoerder, Kerry Mauchline, geantwoord dat die tydlyn vir konstruksie tans heroorweeg word te midde van onsekerheid oor die beskikbare begroting.
Mauchline het bevestig dat die grond (Erf 26151) reeds van die Stad na die provinsiale regering oorgedra is vir gebruik deur die onderwysdepartement.
’n Verdere navraag of die provinsiale regering binnekort die bosse op die erf sal laat sny of verwyder, is kort voor druktyd na die departement van infrastruktuur aangestuur vir kommentaar. TygerBurger sal daaroor berig sodra verdere terugvoer ontvang word.





