Kensley en Carmen Kolbee, die meesterbreine agter die rooftog wat in 2014 by die Standard Bank in Van Riebeeckweg plaasgevind het, is onlangs elk 15 jaar tronkstraf opgelê.


Die meesterbreine agter ’n rooftog wat in 2014 by die Standard Bank in Van Riebeeckweg in Kuilsrivier plaasgevind het, is uiteindelik, bykans 10 jaar later, agter tralies.

Carmen Kolbee (47), wat destyds die bankbestuurder was, en haar gewese man, Kensley Kolbee (46), is op Vrydag 23 Augustus in die Bluedowns-landdroshof elk 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede. Albei is ook ongeskik verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Volgens ’n verklaring van die Valke, die polisie se eenheid vir prioriteitsmisdaad, volg die vonnisoplegging op bewerings dat drie manlike verdagtes op 12 November 2014 die bank se werknemers met vuurwapens aangehou en gedreig het. Al die kontant van vier van die bankkassiere se kluise is glo geneem en die bank se werknemers is ook van kontant en hul selfone beroof. Die hardeskyf van die kringtelevisiekameras is ook gebuit.

Die saak is deur die Valke in Bellville ondersoek, wat gevind het dat Carmen en Kensley Kolbee betrokke by die beplanning van die rooftog was.

Die Burger het in September 2016 berig dat Carmen, wat toe glo die spanleier by Standard Bank in die Zevenwacht-winkelsentrum was, en Kensley, asook vyf ander mans, by hul wonings in hegtenis geneem is. Drie van die mans is geïdentifiseer as Ebrahim Isaacs, Samorien Hattas en Leroy Ackerman terwyl die ander twee glo staatsgetuies geword het.

Volgens die berig het adv. Christiaan de Jongh, staatsaanklaer, in die hof aangevoer dat Carmen die baasbrein was en dat sy haar medebeskuldigdes van inligting voorsien het om die rooftog uit te voer. Die rowers het destyds met sowat R500 000 weggekom.

Carmen en Kensley is in 2016 op borgtog van R10 000 elk vrygelaat. Volgens die Valke se verklaring verlede week het Isaacs (51), Hattas (49) en Ackerman (42) in Februarie 2017 ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, waarna hulle gevonnis is.

Maj. Gen. Mathipa Makgato, provinsiale hoof van die Valke, het die vonnisoplegging van die Kolbees verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article