As jy hier lees, hoop ek van harte jy het die uitdagings van Januworry oorkom.
Jip, baie mense sukkel gewoonlik in die eerste maand van die jaar met geld.
Jy kan dit dalk toeskryf aan onverskillige uitgawes oor die feestyd of swak beplanning die vorige jaar, maar Januarie is ’n maand wat baie mense druk.
Dit is die maand wanneer skoolgeld betaal moet word en die kinders se klere van verlede jaar nie meer pas nie. En alles dit moet gedoen word terwyl die meeste mense reeds vroeg in Desember hul laaste betaaldag gehad het.
As jy ’n Suid-Afrikaner is, moet jy nog daarop bedag wees dat die regering jou uit die bloute uit gaan verras met die een of ander verhoging. Die reserwebank het reeds die uitleenkoers verhoog en van vandag af styg die petrolprys ook. In hierdie veelbewoë land van ons het ons min tot geen wegkruipplek.
Maar hier aan die Suidpunt van Afrika vind ons altyd iets om oor te lag, en die afgelope paar weke was sosiale media weer vol grapgatte wat die spot dryf met Januarie en sy gesukkel.
Die een ou skryf: “Makeer geld om deur die maand te kom. Halwe bottel brandewyn te koop. Geen kansvatters asseblief.” ’n Ander sê weer Januarie bestaan uit twaalf maande. My moedswillige vriend het weer laat weet dat hy resepte soek wat hy met water kan maak.
Omdat Januarie die eerste maand van die jaar is, is dit ook in die maand waar ons besluit om ’n nuwe blaaitjie om te slaan. “Ek wil gewig verloor, maar ek wag vir Januarie.” “Ek wil geld spaar, maar eers in Januarie.” Hierdie jaar gaan ek daardie projek wat ek reeds drie jaar uitstel, aanpak en voltooi.
Hoekom wag ons altyd tot Januarie om nuwe dinge aan te pak? Jy kan mos enige dag begin spaar of enige dag begin oefen of wat ook al doen . . .
Dit het dalk te doen met die idee dat ons brein so bedraad is dat daar ’n begin en ’n einde moet wees?
Kom ons gesels kortliks oor daardie gewraakte uitdrukking “nuwejaarsvoornemens”. Ek gaan sommer uit die staanspoor erken dat een van myne reeds in die hek geduik het. Aan die ander klou ek nog naarstiglik vas met die punte van my naels.
Hoekom sukkel ons om by ons nuwejaarsvoornemens te hou? Die slim mense sê dit het te doen met genot. Jip, wanneer mense dit geniet om iets te doen, sal hulle langer getrou bly aan dit wat hulle beplan om te doen.
Ek, wat dringend gewig moet verloor, hou nie baie van gimnasiums nie. Daar is verskeie redes, maar die groot rede is dat masjiene gedeel moet word. Ek wonder altyd oor hoe gesteld op higiëne die ou voor my was.
Aan die ander kant is die langtermynkontrakte wat gimnasiums het. Ek het by geleentheid vir twee jaar lidmaatskap by ’n gimnasium gehad en ek was dalk net twee keer daar. Dit is te verstane dat die gimnasium moet geld maak, maar hoekom kan ’n ou nie net by die deur betaal nie? Met die ekonomie wat reeds so druk, wil ’n mens nie nog vir goed betaal wat jy min gaan gebruik nie.
In elk geval, ek hoop almal van julle het so ongeskonde as moontlik deur Januarie gekom en sien daarna uit om die volgende elf maande ywerig aan te pak. As jy so vroeg in die jaar jou nuwejaarsvoornemens moet aanpas, doen dit. Jy kan enige tyd weer begin en jy hoef nie vir volgende jaar in Januarie te wag nie.
Die belangrikste is dat jy iets kry om te doen wat jy geniet.




