Krag af en duisende rande se skade toe weerlig vermoedelik boom in Durbanville tref

No caption found

Stefan Kruger

Ongekende donderweer en weerlig het gister inwoners van Durbanville laat gordyne toetrek. 

In Sonstraal het ’n weerligstraal vermoedelik ’n boom getref en twee buurhuise se elektrisiteit afgeskop.

“Ons het ons lam geskrik; dit was soos ’n bomontploffing,” het Douw Kruger van Barbarossaweg in Sonstraal gesê.

Volgens hom was dit 13:26 toe hulle die “massiewe slag” hoor.

“Die donderwolke was besig om oop te trek. Ek en my vrou het in die sitkamer gesit toe die weerlig skielik sonder waarskuwing slaan. Ons kon die vonke sover as 17 meter van die slaapkamer tot by die stoep sien spat,” vertel hy.

Volgens Kruger kon hulle nie sien waar presies die weerligstraal die grond getref het en of die wildevyeboom in hul agterplaas getref is.

Die boom lyk ongedeerd, sê hy. 

Net langs hul boom is ’n palmboom, wat daarvoor bekend is dat as dit deur weerlig getref word, dit aan die brand slaan.

Toe hulle ná die slag uitgaan, het bruin rook uit die boomtoppe van hul boom gewarrel. Hoewel die boom nie beskadig is nie, is hul elektrisiteit, asook dié van hul bare afgeskop

.Die Stad Kaapstad moes uitkom om dit weer by die elektrisiteitsboks in hul straat aan te skakel.

“Van ons ligte se stroombreker/beskermer is verwoes. Ons alarmstelsel werk nie meer nie en goed soos gloeilampe, ons skootrekenaar se laaier en ’n verlengingskoord is ook vernietig,” sê hy.

“Die bure se televisie is ook kapot.”

“Ons woon nou al 36 jaar hier – sedert 1986 – en het nog nooit so iets in Durbanville beleef nie,” sê hy.

TygerBurger het ’n vinnige soektog op internet gedoen en vasgestel weerligstrale het in April 2017 ’n palmboom in Durbanville getref en dit aan die brand laat slaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article