Kevin Reed, bobaaskok en -braaier van Brackenfell.


Hy het kos nie gekies nie; kos het hom gekies.

Só sê sjef Kevin Reed (24), wat ons televisieskerms die komende Donderdag gaan laat glinster as een van 20 deelnemers aan kykNet se nuwe koswerklikheidsreeks, Kokkedoor Vuur & Vlam.

Die reeks, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 27 Julie om 20:00.

Vir die reeks moes deelnemers al hul disse oor die kole voorberei vir die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha se fynproewer- beoordeling.

Kevin, wat in Brackenfell gebore is en grootgeword het, is ’n talentvolle sjef wat al op ’n jong ouderdom wys hy is ’n uitblinker. Op 24 het hy reeds sy sjef-kwalifikasie verwerf en is hy ook ’n mede-aanbieder van die kosprogram Spyskaart op SABC2.

Hy het sy skoolloopbaan by die Laerskool Gene Louw begin en aan die Hoër Landbouskool Boland voltooi, waar hy ook ’n kranige rugbyspeler was.

Ma skielik nie daar nie

Kevin sê hy is genoodsaak om die voorskoot op te tel ná sy ouers se egskeiding in sy gr. 11-jaar.

“Ek het by my pa gebly, en ma was skielik nie meer daar om te kook nie. Ek het besef ek sal nou self moet kos maak, en so het ek geleer.” Ná skool het hy sy tasse gepak en is hy vort Engeland toe.

“Ek het ’n los werkie gekry, waar ek eers net skottelgoed gewas het en toe later in die kombuis ingeboender is. Ek wou eintlik rugby gespeel het, maar dinge het toe nie so uitgewerk nie,” vertel hy aan TygerBurger uit Cape Cod in Massachusetts in die VSA, waar hy tans vir ’n restaurant genaamd Winslow’s Tavern werk.

Terug in Suid-Afrika het hy in 2018 by die Capsicum-sjefskool ingeskryf vir ’n kursus en die res is geskiedenis.

“Ná my kursus het ek begin inskryf vir kompetisies en soos ek die een ná die ander begin wen het, het ek besef daar lê ’n goeie loopbaan vir my voor in die kosbedryf.”

Kevin het in 2018 die One and Only Reacing for Young Starssjefkompetisie gewen en daarna die Sjefhuis op VIA.

Oor Kokkedoor Vuur & Vlam sê hy: “Dit was amazing, ongelooflik! Ek wou nie huis toe gaan nie. Die kompetisie was egter straf en ander deelnemers het hom as ’n bedreiging beskou.

“Dit was baie intimiderend en ek was onder baie druk. Omdat ek nie juis ’n groot braaier is nie, en daar ’n vorige wenner van The Ultimate Braai Master was, het ek uit die staanspoor uit geweet ek het iets om te bewys. Ek glo as jy kan kook, kan jy ook kos maak op ’n vuur.

“Dit gaan maar oor vuur maak en hitte-beheer. Die grootste grootste uitdaging was om ’n vuur te maak en aan die gang te hou op die dae wat ons buite in gure weer moes braai,” sê Kevin.

Die beoordelaars, sê hy, was krities, maar eerlik en op die man af.

“Bertus is maar Bertus en Kobus is ’n bobaasbraaier. Ek het geluister na wat hulle sê, maar dit nie kop toe gevat nie.”

Kleurvolle karakters

Lede van die media is Donderdag by Atlantic Studios in Montague Gardens op ’n voorskou van die reeks getrakteer.

In episode een gaan kykers kennis maak met die kleurvolle karakters in onder meer ’n visbraai, waar spanning gou opbou tussen die “onthoubraaiers” en “kinkelbraaiers”. ’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding nie, maar sy hart klop warm vir tradisionele kos.

Kinkelbraaiers is gekies vir hul kwalifikasies of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis. Die bekende sjef Herman Lensing was die kosvervaardiger vir die reeks.

“Dit was ’n ses maande lange proses om die koslys reg te kry. Ons moes elke scenario bedink om te probeer voorspel wat deelnemers moontlik kon nodig kry.

“Ons het soms vreemde versoeke gekry, maar alles binne perke. Dit was lekker om te sien hoe die deelnemers groei. ’n Mens raak sommer lief vir hulle; opgewonde saam met hulle, en hartseer saam met hulle. Daar is ongelooflike talent in Suid-Afrika,” het hy aan TygerBurger gesê.

“Braai is eintlik so oud soos die mensdom self. Dis ’n oer-instink wat ons almal in ons het. Jy kan baie meer op ’n vuur doen as net ’n lamstjoppie.”

Herman se gunstelingbraaikos is hanghoender en ’n lekker braaibroodjie.

Ook Kevin is mal oor ’n braaibroodjie en ook braaiaartappels en varkribbetjies.

Paul Venter, vervaardiger, sê dit was ’n voorreg om nuwe kosmakers in Suid-Afrika bekend te stel. “En jy hoef nie Kokkedoor te wen om ’n lewe uit Kokkedoor te maak nie, soos bewys deur baie ander vorige deelnemers,” sê hy.

Die kinkelbraaier Kevin sê hy is tevrede met sy prestasie in die kompetisie, maar kykers sal maar moet wag en sien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article