Kopers verwelkom splinternuwe winkel in Bothasig

’n Inkopieganger lees deur die advertensie-bylaag by die ingang van die splinternuwe Food Lover’s Market.FOTO: Richard Roberts


’n Lang ry het inkopiegangers verlede week begroet by die opening van die splinternuwe Food Lover’s Market in Bothasig.

Die winkel is geleë op die hoek van Link- en Vryburgerweg in Bothasig en bedien Bothasig sowel as omliggende gebiede, insluitend Edgemead, Richwood, Burgundy Estate, Monte Vista, Panorama en Plattekloof.

Die opening van die splinternuwe tak van dié kettingwinkel was verlede Donderdag 20 Oktober. Die deure is om 07:00 reeds geopen en eers laat weer gesluit.

Geduld was aan die orde van die dag

Inkopiegangers moes egter ’n ruk wag voordat hulle binne toegelaat is weens die lang ry mense, wat spiraalvormig buite die winkel gekronkel het.

Wagte was by die ingang, waar trollies aan inkopiegangers verskaf is. Sekerheidswagte en ander personeellede het ook buite die ry mense gereguleer.

Die sekerheidswagte moes ook toesien dat parkering vlot verloop.

Weens die groot aantal motors is die parkeerterrein van ’n plaaslike gemeenskapsaal ingespan.

Amptenare van die Stad Kaapstad se verkeersdienste is ook ontbied om verkeer buite die gebou te help reguleer.

’n Beampte het aan TygerBurger gesê daar was reeds voor 07:00 mense buite die winkel.

Binne was dit bedrywig en het mense van die lae afslagpryse op meeste van die produkte benut om hul trollies mee te vul.

In ’n mediaverklaring sê Brian Coppin, uitvoerende hoof en medestigter van die Food Lover’s Market-groep, die terugvoering uit die plaaslike gemeenskap en omliggende gebiede met die opening van die winkel was positief.

“Uit die oorweldigend positiewe reaksie met die opening, is ons seker daarvan dat dit die winkel van voorkeur sal wees in die woonbuurt.

“Ons is vol selfvertroue dat ons die beste winkel in die gemeenskap geskep het – ’n voortreflike inkopiebestemming waar die gehalte en verskeidenheid buitengewoon is, wat elke koper sal geniet,” sê Coppin.

Gemeenskap verwelkom winkel

Die amptelike opening van die winkel is Woensdag 19 Oktober by die perseel gehou en deur die nuutverkose wyksraadslid, Miquette Temlett, sowel as lede van die Bothasig-inwonersvereniging bygewoon.

Derek Serra, voorsitter van die Bothasig-inwonersvereniging, sê as organisasie verwelkom hulle die opening van die vlagskipwinkel in dié woonbuurt.

“Dit is aanduidend van die vlak van vertroue wat Food Lover’s Market in ons gebied het, dat hulle bereid is om R100 miljoen te belê in hul beste winkel, en dit nogal in Bothasig.

“Ons inwoners is nou in ’n bevoorregte posisie om toegang te hê tot al die groot supermark-kettingwinkels binne enkele kilometers van die middel van die woonbuurt,” sê Serra.

Hy sê eiendomspryse sal na alle waarskynlikheid styg, aangesien Bothasig nou meer aantreklik geword het vir voornemende kopers.

“Die 150 personeellede by die winkel is ook uit omliggende gebiede afkomstig, insluitend Bothasig, wat meer werksgeleenthede verskaf.”

Honderde mense het buite die winkel in ’n lang ry gestaan om by die ingang uit te kom. Die deure is Donderdag om 07:00 geopen.FOTO: Richard Roberts

Brian Coppin, uitvoerende hoof en medestigter van die Food Lover’s Market-groep, is saam met Travis Coppin, uitvoerende hoof van Food Lover’s Market: verkoopsafdeling, buite die nuwe winkel.FOTO: Richard Roberts

Serra sê Bothasig voel beslis soos die plek in Kaapstad waar dinge aan die gebeur is.

Coppin sê: “Ons het lank en ernstig nagedink oor wat dit behels om die beter winkel in die gemeenskap te wees, veral in die huidige ekonomiese klimaat.

“Ons het besef dit behels die aanbieding van ’n volmaakte inkopie-ervaring.”

Hy sê dit gaan ook daaroor om die gemeenskap te ondersteun deur waarde, gehalte en keuse aan hulle te bied.

Ervare verkoper aan die stuur

Volgens die mediavrystelling sal die nuwe winkel aan inkopiegangers ’n unieke een-stop inkopie-ervaring bied.

Die winkel sal bestuur word deur Valentino Ricciardi, ’n hoogs ervare verkoper met 42 jaar ondervinding.

Valentino is reeds 29 jaar lank deel van die winkelgroep.

Hy word bygestaan deur ’n span van 150 passievolle personeellede.

Meeste van die spanlede is uit die omliggende gebiede verkry, insluitend Dunoon, Milnerton en Edgemead, lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article