Konsert wat vreugde vir seniors bring, benodig klankstelsel

Melanie Labuschagne en Therene Nel van Crown Create Studios.

Credit: SYSTEM

Hulle het bekend geword vir hul vertoning wat vroue laat skaterlag, bemoedig en inspireer.

Tussenin het hulle ook hope meisies en tieners geleer om meer vertroue in hulself te hê omdat God hul liefhet.

En nou bring die vroue van Crown Create Studio hul kenmerkende tikkie vreugde en wysheid na seniors toe.

“Om by aftreeoorde op te tree is een van ons mees lonende, mees vervullende ervarings, want jy bring hoop vir mense wat geweldig alleen, dikwels mismoedig, is,” sê Melanie Labuschagne.

Sy en Therene Nel, die duo agter die immergewilde Queen of everything-vertoning, het verlede maand vir die eerste keer hul nuwe vertoning, Ek lewe, by die Plumstead-rusoord opgevoer, en die uitnodigings stroom in.

“Wanneer jy voor daai gehoor staan en jy beleef hoe die lig in mense se oë terugkom, raak dit jou geweldig diep.”

Hulle het al sedertdien in verskeie oorde in Durbanville, Brackenfell en Panorama opgetree.

Kans vir die lewe

Ná afloop van hul eerste vertoning het ’n vrou na hul gekom en gesê sy’t die oggend opgestaan en die Here gevra om dood te gaan omdat sy nie meer wou lewe nie.

“Sy (was) so dankbaar want sy (het) geweet God het ’n boodskap vir haar gehad en sy sien nou weer kans om aan te gaan,” sê Labuschagne.

“Dis sulke getuienisse wat ’n mens laat besef hoe belangrik die werk is wat ons doen.”

Die twee het klaar vier ander produksies waar hulle ook betrokke is: Lily & Luna (’n prinseskonsert vir jong kinders), die Queen of everything-vertoning, Teen Tiara Identity en Tween Tiary Identity (vir die ouderdomsgroep tussen kinders en tieners)

Die nuutste vertoning is ook, soos ander, ’n komiese kabaret. “Ons raak relevante temas aan, soos verlies, swaarkry, geliefdes wat emigreer, bekommernisse oor die toekoms van ons land en jou eie mortaliteit, terwyl ons hulle uitdaag om nie op te gee op die lewe nie,” sê Labuschagne.

“As jy nog hier is, is daar nog ’n plan vir jou en in elkeen se hand is daar iets waarmee jy ’n seëning kan wees vir ander.”

Avbob het ook begin saamwerk om die vertonings op die been te bring. Avbob se skakelbeampte help die seniors met vrae oor polisse terwyl Crown Create die vermaak verskaf.

Die Building Better Lives Foundation het ook van hulle te hore gekom en ’n vertoning in Belhar gereël, geborg deur Avbob. Meer sulke vertonings volg.

Klankstelsel

Die span het egter agtergekom hoe broodnodig ’n klankstelsel is. Gewoonlik is daar by ander optredes ’n professionele klankman wat by die lokaal werk. ’n Professionele klankman is egter duur en daar is nie ’n ekstra klankstelsel tot hul beskikking nie.

Hulle beoog nou om ’n mobiele stelsel, wat tussen R28 000 en R35 000 kos, aan te skaf en samel nou geld in.

Hul grootste insameling vind Vrydag plaas, waar die opbrengste van die Queen of everything-vertoning gebruik gaan word om die klankstelsel te help befonds. Verskeie organisasies het intussen pryse geborg, wat die aand op die spel gaan wees – onder meer koopbewyse vir vleis, die Spur, Koffi Terapi en salonkoopbewyse.

  • Kontak crowncreatestudio@gmail.com om ’n bydrae tot die klankstelsel te maak of om hulle vir ’n geleentheid te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article