Om haweloosheid te takel, “is uiters moeilik in ’n gebroke openbare gesondheids- en maatskaplikeontwikkelingstelsel”, sê Ilse Maartens, Kaapstad-takbestuurder van die organisasie MES wat na straatmense uitreik.
Maartens sê die kwekery-tonnels in Kuilsrivier (langs die rivier) is deur MES ontwikkel, maar die projek is later aan Streetscapes oorgegee.
TygerBurger verneem die voormalige straatmense tans betrokke by Streetscapes Kuilsrivier kom van elders en nie van Kuilsrivier.
“Ons het jare terug met ’n hele paar belanghebbendes in Kuilsrivier probeer om ’n geïntegreerde plan (saam met buurtwagte, kerke en die staat) op die been te bring. Dit is maar die enigste manier waarop werklik ’n verskil gemaak kan word,” sê Maartens.
TygerBurger het verlede week berig oor die groeiende nedersettings langs die kanaal, veral in die omgewing van Van Riebeeckweg.
Die plakkers teenaan die kanaal agter die hospitaal is al geruime tyd ’n bron van kommer, sê Dirk Truter, hoofbestuurder van Netcare Kuilsrivier-hospitaal.
Truter sê hulle is sedert vroeg verlede jaar gereeld in gesprek met die plaaslike raadslid oor die aangeleentheid. Weens die noodtoestandregulasies wat aanvanklik in plek was (en vroeër vanjaar herroep is), was die boodskap dat die informele nedersettings oorkant die hospitaal, asook elders langs die kanaal, nie verskuif kon word nie.
“Ons meld gereeld versoeke aan, maar tot dusver was al ons pogings om die verskuiwing van die informele nedersetting te verseker, onsuksesvol.
“Intussen het ons ’n sekerheidswag aangestel om die veiligheid van personeel, sowel as besoekers, te verseker, asook ’n muur opgerig om toegang tot die hospitaal se terrein te voorkom.”
Truter sê hulle het vir ’n opvolgvergadering met die raadslid (Marian Nieuwoudt) gevra in die hoop om ’n aanvaarbare oplossing te vind.
Jamiela Kasper, ’n plaaslike vrywillige werker onder die haweloses in Kuilsrivier, skat daar is tans sowat 200 mense op straat in Kuilsrivier.
Volgens Kasper gaan die Stad Kaapstad se veldwerkers te min uit.
“Hulle weet nie wie is wie nie.”
Sy sê die veldwerkers verskuif ook te gou van een area na ’n ander.
Dus is daar nie kans om regtig ‘‘verhoudings’’ op te bou nie. “Wanneer hulle uitgaan, is dit saam met wetstoepassers – jy kan nie uitgaan met combat gear en sê ons wil jou help nie.”
Volgens Kasper is daar twee veldwerkers en een herintegrasiebeampte vir Kuilsrivier. Sy sê taal is ook ’n probleem. “Meeste van die Stad se veldwerkers is swart, (en) meeste van die haweloses in die area is bruin. Hulle kan nie Afrikaans praat met die mense nie.”
Kasper sê die meeste van die straatmense is al deur ’n ronde van skuilings of programme. “Die stelsel werk nie – die oplossing wat die Stad het, is net skuilings, gaan terug na familie toe of terug na jou gemeenskap toe.”
Sy sê paartjies sukkel eerder saam in die winterkoue as om geskei in skuilings te wees, en weens gebroke verhoudings en ekonomiese uitdagings is dit ook nie so eenvoudig om mense na familie te stuur nie.
Op korttermyn kan gehelp word, maar daar is geen volhoubaarheid in die program nie, sê Kasper.
”Daar is mense wat nie daarvan hou dat ek een of twee keer per week uitgaan en kos uitdeel nie, maar dit is nie net dit nie. Ek knoop geselskap aan – wat gaan aan met jou nou, vat jy nog jou pille? Ek weet wie gebruik medikasie, wie volg ’n program, wie doen wat.”
Kasper sê dit is jammer dat almal soos misdadigers behandel word. “As jy met hulle praat, is hulle gewillig om te sê, ‘daai een is skelm’.”
Sy is bewus van inwoners se klagtes en sê die situasie naby die hospitaal is “’n bom wat gaan ontplof”.
“Ek weet regtig nie wat die oplossing gaan wees nie.”
Volgens MES se bevindings is daar 14 357 straatmense in Kaapstad, maar slegs 2 473 beddens in skuilings.
Maartens sê dit plaas die Stad se departemente vir wetstoepassing en maatskaplike ontwikkeling in ’n moeilike situasie om alternatiewe blyplek te vind vir straatmense wat gewillig is om van die strate af te kom.
“Om straatmense te help, vereis ingrype wat akkommodasie, rehabilitasie en ontwikkeling insluit,” sê sy.
MES het ’n uitreikwerker wat lid is van die Joint Operations-komitee in Bellville, waar inligting en intervensies met die veldwerkers van die Voortrekkerweg-stadsverbeteringsdistrik (VRCID) in Bellville en Parow gedeel word, sê Maartens.
“Dit verseker ’n strategiese en gefokusde benadering deur die polisie, wetstoepassing en buurtwagte, asook organisasies soos The Haven, MES, Tasp, TBHIV Care en die Stad.
“Dié verenigde benadering het gelei tot oplossings, asook die eerste plek van veiligheid wat in 2017 geopen is en deur MES bedryf word.”
Maartens reken so ’n gesamentlike benadering is wat nodig is en dat met hofbevele nie veel uitgerig gaan word nie.
“Dit kom daarop neer dat haweloosheid as ’n oortreding beskou word. Haweloses kry dikwels ’n boete van tot R1 000 en as hulle dit nie betaal nie, word hulle voor ’n gemeenskapshof gedaag. Die hofinterdik word na die adres van die “oortreder” gestuur, en aangesien straatmense geen vaste adres het nie, is die hele proses sinloos, sê sy.
Maartens sê straatmense is baie gebiedsgebonde, “want hulle weet hoe om hier te oorleef en te ‘skarrel’. Om hulle na veilige plekke buite hul gebied te skuif, werk eenvoudig nie. Om straatmense in ’n area doeltreffend by te staan, moet daar ’n plek van veiligheid of skuiling kom,” sê sy.
TygerBurger is bewus van heelwat klagtes oor die plakkers langs die kanaal in Brantwood (onder meer van Eden Park-aftreeoord se inwoners). Wouter de Vos, Wyk 11-raadslid, gee toe dit is “’n kopseer’’.
“Mense dink raadslede wil plakkers en haweloses die hele dorp vol hê – ons wil nie; ek wil nie hê enigeen in my wyk moet op straat slaap nie, maar daar is goed wat ’n mens kan doen en daar is goed wat deur wetgewing en hofuitsprake beperk word.”





