Twee verlore klein kolgansies het vanoggend in twee aparte werkswinkels in Brackenfell Industria ingedwaal nadat hulle vermoedelik van hul ma geskei is op besige pad agter die industriële gebied.
Jaco Terblanche was half verslae toe die klein kolgansie by sy werkswinkel ingewaggel gekom het.
“Waar kom die outjie vandaan en wat nou gemaak,” het Jaco hardop gedink.
Hy het vinnig ’n video gemaak en op die plaaslike WhatsApp groep geplaas.
Tanya de Koker wat ’n besigheid reg langs Terblanche onderneem, het rukkie vroeër haar hondjie uitgevat toe sy ander eendjie in die perseel agter haar winkel gewaar het.
“Ons het om gevang en in ’n boksie gesit. Ek het toe vir hom (of haar) ’n broodjie by die winkel bestel om aan te eet, toe ek Jaco se video gesien op die groep sien,” sê Tanya.
Sy het dadelik vir Jaco gekontak en die twee eendjies is bymekaar gebring in dieselfde boksie waar hulle die dag deurgebring het.
“Ons het in die straat afgery om te kyk of daar dalk nog eendjies of ’n ma gans iewers is maar niks gekry. Ek vermoed die tweetjies het by ’n steil randjie voor die pad in Kruisstraat afgegly toe die ma die pad oorgesteek het,” sê Tanya.
Danksy een van Tanya se kliënte sal die twee gansies later vandeesweek hul weg maak na ’n plaas in Caledon, wat behoort aan die kliënt se pa behoort.
“Gelukkig kuier sy pa tans by hom in Brackenfell en het geoffer om die gansies plaas toe te vat,” sê sy.





