Die Laerskool Vredekloof het verlede week die jaar op `n hoë noot afgesluit met `n demonstrasie van welwillendheid aan die gemeenskap, asook `n viering van hul leerders se prestasies.

Te danke aan `n ouer-leerder-inisiatief kon die skool 203 bokse aan die Santa Shoebox-projek skenk om plaaslike families in nood in die feestyd te ondersteun.

Die bokse is gevul met noodsaaklikhede en bederfies vir Kersfees.

Die skoolhoof, Philip Wessels, en die organiseerder van die Santa Shoebox-projek, Marina Snyman, saam met die leerderraad gereed om die bokse te oorhandig.

“Leerders, ouers en onderwysers sien elke jaar baie uit na die projek. Die skool bedank elkeen wat hul harte oopgemaak het om van die projek `n sukses te maak,” sê `n woordvoerder by die skool.

Die skool het ook verlede Donderdag sy prysuitdeling gehou om leerders vir hul harde werk deur die jaar te bedank.

Spesiale toekennings

Spesiale toekennings is uitgedeel en sluit in die die sportseun en -meisie van die jaar, die kultuurtoekenning, hoofdetoekenning, dux-leerder en vaktoekennings.

“Ons is ongelooflik trots op elke Klofie wat deur die jaar hard werk en die skool se naam hoog hou,” sê die woordvoerder.

Die nuwe leerderraad vir 2026 is ook by die geleentheid aangekondig. Die hoofleiers vir 2026 is Emma Williams, Isabella van Wyk, Ruben Vorster en Akhile Hans.

“Ons weet dat die leerderaad sal voortgaan om hulle leiereienskappe aan die res van die skool te wys en die leerders sal lei om altyd die Laerskool Vredekloof se naam hoog te hou.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article