Kleuter sterk aan ná pa hom met mes in speelplek se babakamer steek

Die ma is met haar seuntjie in haar motor na die Mediclinic Durbanville gejaag maar het op pad, omstreeks 11:40, vermoedelik die mediese reaksievoertuie van Titanium Securitas by die Engen-vulstasie in Durbanville opgemerk en die beamptes se aandag getrek.

Titanium Securitas

Die 35-jarige man wat die afgelope Saterdag na bewering sy 18 maande oue seun in die Ipic Play-speelplek in die Ipic Aurora-winkelsentrum met ’n mes gesteek het, en daarna homself herhaaldelik met die mes gesteek het, was Maandag steeds onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die voorval het net na 11:00 in ’n babakamer waar ouers hul babas se doeke omruil of hul babas voed, plaasgevind.  woordvoerder van die bestuur  van Ipic Play het die pa na bewering sy seuntjie na die kamer geneem om sy doek te ruil, maar nie weer te voorskyn gekom nie. Die kind se ma, wat ook saam met hulle by die speelpark was, het onrustig begin raak, en toe sy en ’n werknemer na bewering die deur na die babakamer oopmaak, het die grutoneel hulle begroet. Die kind is na bewering in die nek gesteek.

Jaagtog

Die ma is met haar seuntjie in haar motor na die Mediclinic Durbanville gejaag maar het op pad, omstreeks 11:40, vermoedelik die mediese reaksievoertuie van Titanium Securitas by die Engen-vulstasie in Durbanville opgemerk en die beamptes se aandag getrek.

Die beamptes was daar om iets te ete te koop en het dit daar genuttig, lui ’n mediaverklaring deur Titanium Securitas.

Hulle het nader gegaan en gesien die ma is vol bloed en het haar kind met steekwonde in sy nek in haar arms vasgehou. Hulle het dadelik die kind in hul ambulans gelaai om hom te stabiliseer en daarna in die ambulans na die Mediclinic Durbanville vervoer vir verdere mediese sorg.

Volgens die Ipic Play-woordvoerder is dit ’n wonderwerk dat die seuntjie die aanval oorleef het en het hy volgens skanderings geen permanente beserings opgedoen nie. Hy is reeds van die ventilator afgehaal en intussen na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.

Die ambulanspersoneel van Titanium Securitas is daarna na Ipic Play om die pa te behandel. 

Dreigemente, rubberkoeëls

Volgens AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder, het lede van die Durbanville-polisie met hul aankoms by Ipic Play gevind die kind se pa, wat homself met die mes gesteek het, was buite beheer. Hy het gedreig om die polisielede ook met die mes te steek, maar hulle het daarin geslaag om hom te ontwapen en hy is na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Hy is deur die polisie in hegtenis geneem op ’n klag van poging tot moord en tans onder polisiebewaking in die hospitaal, het Witbooi gesê.

Die Ipic Play-woordvoerder het gesê volgens sy inligting was die mes ongeveer die grootte van ’n groentemes.

Die man, wat homself in die maag en nek gesteek het, het geweier om die mes te oorhandig. ’n Polisievrou het volgens inligting rubberkoeëls in sy rigting afgevuur om hom tot bedaring te bring en die mes te oorhandig. Die man is daarna na die Mediclinic Cape Gate vir behandeling geneem. Sy toestand was Maandag stabiel.

Die woordvoerder het gesê geen ander gebruikers van die speelpark was enigsins bedreig nie. Ipic Play beskik oor personeel wat opgelei is in noodhulp en beroepsveiligheid, en daar is ook ’n voltydse paramedikus aan diens. Die speelplek het ook ’n mediese plan vir beserings wat kinders by Ipic Play opdoen, het hy gesê.

Volgens ’n mediaverklaring wat Maandag deur Ipic Play uitgereik is, was dit ’n private gesinsvoorval en het mense versoek om die gesin se privaatheid te respekteer.

In die verklaring word die onsensitiewe en ongegronde kommentaar op die voorval betreur. “Ipic Play is ’n familiegerigte instansie waar elke gesin wat deur ons deure kom, deel van die Ipic Pay-familie raak. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om mekaar met respek te behandel, asook ons span en veral die gesin betrokke in die voorval.

“Ons verseker ons besoekers dat ons veiligheidsprotokol- en prosedures in plek is en in hierdie voorval gevolg is,” lui die verklaring.

Die polisie het ooggetuies gevra om Crime Stop by 08600 10111 met inligting te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article