Indien iemand jou kind by die skool aanrand, moet jy liefs eers die saak na iemand anders vat voordat jy dit polisie toe neem, vra die Bellville-kantoor.
Volgens AO Gawie Hawkins, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, kom gevalle toenemend voor waar ouers sulke sake by hulle kom aanmeld.
“Indien die voorval op die skoolterrein plaasgevind het, vra ons ouers om eers met ’n onderwyser wat hulle vertrou, te praat. Skole het tugkomitees wat die saak dan verder neem.”
Hy sê voorvalle waarin iemand met ’n mes gesteek of met ’n wapen geskiet word, moet wel summier by die polisie aangemeld word.
Hy verduidelik dat skole die boelie wil rehabiliteer omdat die boelie gewoonlik nie net een persoon teister nie. Deur die saak dan deur die skool te hanteer, is op die langtermyn meer doeltreffend.
Waar sake gemaak word en dit nie as ’n “ernstige aanranding” volgens die reg beskou word nie, word oortreders selde in hegtenis geneem.
“In sulke gevalle sal die oortreder meestal ’n waarskuwing kry.”
Hy sê die proses is gewoonlik ’n uitgerekte saak waar die klaer se verklaring eers geneem word voordat ’n strafregtelike saak geopen word.
Die saak word aan ’n speurder toegewys, wat dit dan hof toe neem. Die hof besluit dan of hy die oortreder wil aankla of dat die partye ’n mediasieproses moet ondergaan. Boonop word die oortreder se vingerafdrukke geneem alvorens hy of sy in die hof verskyn of gewaarsku word.
“Selfs al word die saak teruggetrek, sal daardie kind se vingerafdrukke op die stelsel wees.”
Dit sal net gespesifiseer word dat die saak teruggetrek is.
Sias Conradie, hoof van die Hoërskool D.F. Malan, sê elke skool het ’n struktuur waarvolgens hulle dissipline hanteer. “My voorstel sou wees dat ’n kind wat voel hy word geboelie, dit by sy registeronderwyser aanmeld, of by ’n onderwyser wat hy in sy vertroue kan neem of met wie hy ’n baie goeie verhouding het.”
Die saak word dan verder gevat.
“Die belangrikste is dat dit met soveel detail as moontlik aangemeld word.”





