Leerders van die Laerskool Silversands leer oor boeliegedrag.

Credit: SYSTEM

Kinders wat geboelie word, moenie daaroor stilbly nie.

Dit was die boodskap van die Mfuleni-polisie verlede week by die Laerskool Silversands. Dié polisiekantoor is besig om al 16 skole in sy polisiegebied te besoek om boeliegedrag te probeer hokslaan.

AO November Filander, polisiewoordvoerder, sê hulle het oor alle vorme van boelie gepraat.

“Kinders kan wreed met mekaar wees. Boelie is nie net wanneer een kind die ander te lyf gaan nie. Dit sluit goed in soos kinders wat mekaar name noem en neerhalend teenoor mekaar is,” sê Filander.

Hy sê daar is ook ander aspekte van boeliegedrag wat aandag moet kry.

“Sedert die koms van selfone word dit ook gebruik om kinders te boelie. Daar is gevalle waar kinders hul maats in ongemaklike situasies afneem en dan die video’s rondstuur. Hierdie slagoffers hou sielkundige letsels, wat hulle later in hul lewens kan pla. Met skole wat ook al hoe meer leerders uit verskillende rassegroepe akkommodeer, was daar ook ’n toename in rassisme,” sê Filander.

Filander sê dit is ook belangrik dat daar na die kind wat boelie, omgesien word.

“Soms gaan daardie kinders ook deur moeilike tye en gee uiting deur te boelie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article