Koby Michaels bied swemklasse aan vir minderbevoorregte kinders by die Blue Downs-swembad.FOTO: Brenden Ruiter


Honderde kinders van onder meer Blackheath, Happy Valley, Delft en Wesbank het in die skoolvakansie by die Blue Downs-swembad geleer hoe om veilig in die water te wees.

Volgens Koby Michaels, een van die instrukteurs, word die kinders na die swembad deur leiers in hul onderskeie gemeenskappe gebring. “Omdat daar geen ontspanningsgeriewe in die gemeenskappe is nie, sit baie kinders net doelloos rond. Daar is niks wat hulle stimuleer nie en dit kan daartoe lei dat hulle in verkeerde dinge verstrengel raak. Deur na die swembad te kom, doen hulle iets konstruktief,” sê hy.

Volgens Michaels word die kinders aanvanklik basiese swemvaardighede geleer. “Daar is so baie waterbronne in ons gemeenskappe waar kinders sonder toesig gaan swem. Baie keer beland hulle in die moeilikheid en weet nie hoe om hulself of ander te red nie. Ons leer byvoorbeeld die kinders hoe om te dryf of om water te trap tot hulp opdaag. Ook word hulle basiese lewensreddingstegnieke geleer,” sê Michaels.

Hy moedig ouers aan om hul kinders so vroeg as moontlik te leer swem. “Jy kan jou kind se lewe red as jy hom of haar vroeg waterwys maak. Kinders wat goed vaar in die aanvanklike kursus, ontvang verdere opleiding, wat ook vir hulle sakgeld kan inbring. Die Stad Kaapstad is altyd op soek na lewensredders wat by strande of openbare swembaddens kan diens doen. Hierdie kan lewensveranderend wees,” sê hy.

Persone wat beroertes gehad het of na operasies wil herstel, kan ook by Michaels aanklop. “Ek gee waterterapie om mense met herstel te help. Die waterterapie help met vinnige herstel en is ook ’n prettige manier om dinge te doen.”

  • Kontak Michaels by 083 417 7995.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article