Vandag wil ek nie aan die wenkant of die verloorkant wees nie. Ek kies die die kant van vrede, die kant van die onskuldige … wat is so verkeerd daarmee?
Indien jy dink hierdie is nóg ’n rubriek oor rugby en die “kant”-sage, of dat ek vir ons anti-Bok Suid-Afrikaners gaan vertel hoekom die groen-goud-kant altyd beter as die wit-kant (Eng) of die swart-kant (NZ) gaan wees, lees dan maar eerder verby … genoeg is reeds daaroor gesê.
Ek maak die soveelste mediaverklaring in my inboks oop waarin die “stemme” hul steun aan óf Israel óf Palestina gee.
Hierdie een se besluit is gebaseer op geloof – “ek staan agter” my mede-Christen of mede-Moslem.
Die vorige een het ’n politiese toon – hulle kies die kant wat hul politieke reputasie gaan verbeter of selfs meer stemme gaan help werf, al is die konflik duisende kilometers ver weg.
En dan is daar diegene wat luidkeels ’n kant kies net ter wille van kant kies en natuurlik móét die hele wêreld weet waar hulle staan.
Ons het ’n soortgelyke scenario gesien toe die oorlog tussen Rusland en Oekraïne uitgebreek het.
Die hele wêreld het hulle steun gegooi agter wie hulle dink is reg of verkeerd – meestal agter Oekraïne want wie gee vir Rusland die reg … en toe speel ons eie president voetjie-voetjie met Putin en sê agterna dit was uit vrees.
Maar wie is ek om te besluit wie reg of verkeerd is?
Die antwoord op wie was nou eintlik reg, hang mos maar eintlik af van uit watter oogpunt jy daarna kyk.
Jou politieke- of geloofsoordeel sal jou van nature in ’n sekere rigting trek.
Maar wat dan van die onskuldiges?
Daar is baie mense wat nie gevra het vir oorlog nie. Tog het hulle een oggend wakker geword en hul lewens is omver gewerp omdat hul leiers besluit het om ’n ander land in te val.
Die Gaza-Israel-konflik is ook nie ’n nuwe ding nie. Sedert 2006 is vyf oorloë al oor die Gaza-strook geveg.
Hoeveel mense het nie reeds geliefdes verloor nie.
Hoeveel is nie dakloos gelaat omdat hulle uit vrees moes vlug of omdat daar eenvoudig niks van hulle huise oor is ná die bomme nie.
Hoeveel wil eintlik net in vrede leef?
Tot ons self in daardie omstandighede geleef het, kan ons seker self nie die vrae beantwoord nie.
So, hoekom voel ons genoop om dan ’n kant te moet kies, of erger, smeer ons verder sout in hul wonde.
Sanksies word deur wêreldleiers ingestel, natuurlik om goeie redes, maar weereens is dit die onskuldiges wat aan die kortste ent trek.
Kyk byvoorbeeld op die sportveld. Wanneer laas het jy ’n Rus aan ’n internasionale byeenkoms sien deelneem? Hulle is bloot deelname op internasionale terrein belet oor waar hulle vandaan kom en nie oor hul standpunt nie.
Wenkant, verloorkant, regte kant, verkeerde kant … ek glo vas daar is alle kante mense wat indien hulle sou kon kies, die kant van vrede sou kies.
Vandag kies ek die kant van die onskuldige, die stemlose … die kant van vrede. – Cecilia Hume




