Die brief “Skool toon nie belangstelling” (TygerBurger 20 Augustus) verwys.
Om te veralgemeen of blote aannames te maak, is altyd gevaarlik, maar uit jou slegte ervaring lei ek af dat jou kind(ers) bloot in die verkeerde skool is, ongeag in watter graad hul tans is.
Daar bestaan natuurlik nie iets soos “die volmaakte skool” nie, maar die Remediërende Privaatskool Dunatos (op Stikland-hospitaalgronde in Ou Paarlweg) is na my mening die naaste wat jy aan “perfek” sal kom.
Beide my kinders was van graad 1 tot graad 12 in Dunatos – ‘n besluit waaroor ek en hulle ewig dankbaar sal wees. Die oudste se pre-primêre juffrou het ons destyds tydens ‘n oueraand ingelig dat ons dogter tekens van dyscalculia (wiskundige disleksie) waarneem, en gevolglik was Dunatos die logiese roete vorentoe.
Dis een van slegs twee skole in die noordelike voorstede waarvan ek bewus is waar sulke leerders die geleentheid gegun word om ‘n ander vak, naamlik toerisme, in die plek van wiskunde of wiskundige geletterdheid te neem en steeds ‘n volwaardige hoofstroom eindeksamen in matriek af te lê.
Drie maande voordat my jongste graad 1 toe moes gaan, is my vrou oorlede en het ek besluit dat dit weens emosionele redes beter sou wees om weereens die Dunatos-roete te volg.
Die deernis, ondersteuning, geduld en empatie wat albei my kinders dwarsdeur hul skoolloopbaan ervaar het, verruil ons vir niks nie.
Ek salueer die skoolhoof en personeel vir hul toewyding om hul roeping te volg en daagliks uit te leef in belang van elke afvlerkvoëltjie wat hier geleer word. Soos hul leuse inderdaad lui: “Ek weet ek kan!”
Dankbare pappa, Bellville





