‘n Gemeente in Elsiesrivier het Sondag voortgegaan om die Here te dien ten spyte daarvan dat booswigte meer as R50 000 se musiektoerusting uit die kerk gesteel het.
Pastoor Henry Tarentaal van die United Mission-kerk op die hoek van Twaalfde- en Agtiendelaan in Leonsdale sê hulle gaan nie toelaat dat booswigte hul geloof in die Here skaad nie. “Die kerk is ‘n baken van hoop in hierdie gemeenskap wat gebuk gaan onder bendebedrywighede, dwelmmisbruik en armoede. Ons probeer onder die omstandighede die gemeenskap geestelik, maar ook liggaamlik bystaan.
“Elke Sondag kry elkeen wat kerk toe kom ‘n warm bord kos en enigeen uit die gemeenskap is welkom. Dit is hoekom die inbraak en diefstal so betreurenswaardig is,” sê Tarentaal.
Volgens hom het hulle verlede Dinsdag biduur gehou en toe hulle toesluit, was alles nog daar. “Toe die lof- en aanbiddingspan teen die Donderdag vir oefening opdaag, was al die musiektoerusting weg. Goed is ook uit die kombuis gesteel, wat agter ‘n staalhek is. Ons weet ook nie hoe die booswigte ingekom het nie, want niks is oopgedwing nie en al die deure was weer gesluit. Dit gaan my verstand te bowe,” sê Tarentaal.
Kitare, mikrofone, luidsprekers en klankmengers
Van die goed wat gesteel is sluit in kitare, mikrofone, luidsprekers en klankmengers. “Ons gemeentelede is nie baie welaf nie en hierdie is ‘n reuse-finansiële terugslag vir ons. Ons doen maar aankope met die gemeente se bydrae en baie is bejaardes. Ons gaan egter nie laat hierdie ons van stryk bring nie. Vir die inbrekers wil ek sê die Here het hulle lief. As hulle besluit om hul lewe om te draai, sal die kerk hulle ook verwelkom. Intussen moet die reg sy gang gaan,” sê hy.
‘n Saak is by die Elsiesrivier-polisie aanhangig gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie. Tarentaal het ‘n beroep op enigeen met inligting oor die inbraak gedoen om die Elsiesrivier-polisie te kontak.





