Die Laerskool Kalkfontein gaan ’n welkome hupstoot ontvang danksy ’n leerder se prestasie in die jaarlikse Growsmart-kompetisie.
Kaylin Hufke, ’n gr. 6-leerder, is Saterdag 10 September by die kompetisie se prysuitdeling by die Twee Oseane-akwarium as die wenner in die afdeling vir geletterdheid aangekondig.
Danksy Kaylin se prestasie gaan die skool binnekort ’n iPad-sentrum ter waarde van R350 000 kry.
Allan van Niekerk, hoof van die skool, sê die prestasie bewys Kalkfontein se leerders kan bo hul omstandighede uitstyg. Die skool het tans sowat 1 400 leerders, wat oorwegend uit Kalkfontein self kom.
Van Niekerk sê hulle is baie opgewonde oor die vooruitsig en Growsmart het hom reeds oor die iPads gekontak.
“Ons is dankbaar vir hierdie welkome inspuiting, wat ook as motivering vir ons leerders sal dien.” Hy is natuurlik ook baie trots op Kaylin se prestasie en haar harde werk, asook dié van die onderwyser Natalie Buffels, wat as Kaylin se mentor opgetree het.
Hardwerkend
Buffels, wat ook Kaylin se klasonderwyser is, sê Kaylin is ’n toegewyde leerder. “Kaylin is hardwerkend en doelgerig ten spyte van moeilike omstandighede. Sy het alles ingesit.” Buffels sê die skool neem al ’n paar jaar aan die Growsmart-kompetisie deel, maar Kaylin is die eerste wenner uit hul geledere.
Buffels, Van Niekerk, Kaylin se ouers en nog 10 maats kon almal die prysuitdeling saam met haar by die akwarium in Kaapstad bywoon.
As wenner is Kaylin ook genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig as een van die drie lede van die nasionale junior span, wat van 6 tot 11 Desember aan die Afrika- “Spelling Bee”-kompetisie in Blantyre, Malawi, gaan deelneem. Growsmart borg Kaylin vir die geleentheid.
Kompetisie
Die Growsmart-kompetisie is ’n korporatiewe- maatskaplike inisiatief van die eiendomsmaatskappy Growthpoint, wat sedert 2010 jaarliks in samewerking met die provinsiale onderwysdepartement aangebied word.
Benewens geletterdheid word ’n wiskunde-, kreatiewe skryf- en entrepreneurskap-kompetisie ook aangebied.
In geletterdheid word getoets of die leerders kan spel, die regte betekenis van woorde kan onderskei en of hulle kan identifiseer of woorde korrek in ’n sin gebruik is. Hul kennis van werkwoorde, selfstandige naamwoorde, byvoeglike naamwoorde en idiome word ook getoets.
Die onderwysdepartement bepaal watter skole aan die Growsmart-program deelneem. Elke skool word verteenwoordig deur vyf leerders wat uit die gr. 4 tot gr. 6-klasse gekies word.
Die kompetisie het in Mei begin en leerders moes deur drie rondes gaan om die halfeindronde en uiteindelik die eindronde te haal. Growsmart stel studiemateriaal soos elektroniese koerante, interaktiewe werkboeke en studiegidse aan die leerders en onderwysers beskikbaar om die leerders vir die onderskeie kompetisierondes voor te berei.
Uit die 400 deelnemers in die geletterdheid-kompetisie het 85 die halfeindronde gehaal en 25 het na die eindronde deurgedring.
Beloning
Die wenners in die eerste, tweede en derde plekke in elke afdeling ontvang opvoedkundige hulpmiddels ter waarde van R20 000, R10 000 en R5 000 onderskeidelik. Die onderwysers wat as hul mentors opgetree het, ontvang elk ’n geskenkbewys vir een van Growthpoint se winkelsentrums ter waarde van R10 000, R5 000 en R1 500.
Jewel Harris, bestuurder van Growthpoint-eiendomme in Kaapstad en die stigter van Growsmart, sê die kompetisie is vanjaar aanlyn aangebied, wat dit meer relevant, prettig en vernuwend as voorheen gemaak het.
Die kompetisie is aanvanklik in die Wes-Kaap begin om laerskoolleerders se geletterdheid en wiskundevernuf te verbeter. Dit het sedertdien na die Oos-Kaap en Limpopo uitgebrei.
Seanwin Christians van die Laerskool Dennemere in Blackheath het die wiskunde-kompetisie gewen. Fatima Shabodien van die Laerskool Newfields in Athlone het die beste storie geskryf en ’n span leerders van Laerskool Silverlea in Athlone was die beste entrepreneurs.





