Kayla Reyneke (19) van Kuilsrivier is Donderdag 31 Julie by Krieket Suid-Afrika se jaarlikse prysuitdeling by die Emperors Palace in Johannesburg as Hollywoodbets se Pro20- Speler van die Seisoen vereer.
Reyneke het ’n sleutelrol gespeel in World Sports Betting- Westelike Provinsie (WP) se suksesvolle titelverdediging in die plaaslike T20-liga. Sy het 14 paaltjies in die kompetisie geneem en besonders ekonomies geboul – met ’n gemiddelde van net 4.48 lopies per boulbeurt.
Haar bestendige vertonings was dikwels die deurslaggewende verskil in belangrike wedstryde.

Sy het haar bo twee ander gesoute benoemdes – Tazmin Brits (Leeus) en haar WP-spanmaat Dané van Niekerk – onderskei.
Vroeë talent
Reyneke, wat vroeg vanjaar die SA o.19-vrouespan tot in die eindstryd van die T20-wêreldbeker in Maleisië as kaptein gelei het, het reeds as laerskoolleerder geskiedenis gemaak. In 2018 was sy die eerste meisie wat in die Laerskool Mikro se o.13A-krieketspan gespeel het.
“Ek het op vyf saam met die seuns begin speel. In graad 4 het ons die eerste keer met ’n rooi, harde bal begin,” onthou sy.
Sy is ’n veelsydige speler, maar verkies dit om te kolf. “Maar [dit] lyk my ek doen beter met die bal,” skerts sy.
Sy was in graad 8 aan die Hoërskool Bellville toe sy by die 2019 MTBS-atletiekbyeenkoms ’n nuwe o.14-spiesgooirekord opgestel het – meer as ses meter verder as die vorige rekord. Die skool het destyds op Facebook berig dat sy boonop die Saterdag ná die Vrydag se MTBS-byeenkoms die seuns op die krieketveld met haar boulwerk laat les opsê het.
Sy het later daardie jaar by die SA atletiekkampioenskap in Port Elizabeth met ’n persoonlike beste van 45.97 m in die o.15-afdeling goud verwerf – ondanks die feit dat sy toe nog net o.14 was.
Tot graad 9 was sy mededingend in spiesgooi (tot op nasionale vlak), maar krieket het die oorhand begin kry toe sy daardie jaar (2020) op 15-jarige ouderdom die eerste keer in die senior WP-krieketvrouespan ingesluit is – ’n mylpaal wat haar ma, Bernadette, beskryf het as ’n bewys van haar harde werk en deursettingsvermoë.
Sedertdien speel sy vir die senior WP-vrouespan onder afrigting van Claire Terblanche. Met dié dat sy op skool ook vir WP se o.19- en SA o.19-krieketspanne begin speel het, was daar nie meer veel tyd vir ander sport, soos hokkie en atletiek, nie. “Graad 10 tot 12 het ek nog net spiesgooi vir MTBS gedoen,” sê sy.

Leierskap
In 2023, in haar matriekjaar, was sy lid van die heel eerste SA vroue- o.19-T20-wêreldbekerspan vir die eerste ICC- (Internasionale Krieketraad) o.19-vrouetoernooi, wat plaaslik gehou is.
Vanjaar, in haar tweede o.19-T20-wêreldbeker in Maleisië, het die span eers teen Indië in die eindstryd die knie gebuig.
“In 2023 het ons ook net een wedstryd verloor – ook teen Indië, maar dit was net voor die ‘Super Sixes’, basies net voor die kwarteindrondes,” sê sy.
Reyneke is wyd geloof vir haar leierskap in vanjaar se wêreldbeker en is ook as kaptein vir die Span van die Toernooi aangewys, waarvoor sy saam met haar SA spanmaats Jemma Botha en Nthabiseng Nini benoem is.
Al kon sy nie die wêreldbeker lig nie, soos sy bitter graag wou, was die 2024/25-krieketseisoen propvol hoogtepunte.
In Oktober verlede jaar het sy die o.19-vroue tot ’n 5-0 oorwinning in ’n Jeug-T20- internasionale toetsreeks teen Ierland oor vyf wedstryde gelei .
In die tweede wedstryd het sy 46 lopies van 27 balle aangeteken en die span tot ’n ses-paaltjie-oorwinning gelei – met nog 58 balle oor.
Op 23 Maart het WP die Dolphins verslaan om die eerste wenners van die Hollywoodbets Pro20-reeks te word. Die span is geloof vir hul bestendige spel, vaardigheid en deursettingsvermoë.
Reyneke was een van vyf WP-spelers wat in ’n opkomende vroue-akademie-span (van 15 spelers) opgeneem is en wat in Julie ’n witbaltoer in Namibië voltooi het. Ook hier het sy beïndruk.
In die beslissende wedstryd van die reeks het sy drie paaltjies vir 32 lopies geneem en ’n belangrike vangskoot uitgevoer om Yasmeen Khan, Namibië se no.3-kolwer, vir ’n eendjie terug pawiljoen toe te stuur.
Maklike keuse
Wat die toekoms betref, bly Reyneke vir eers by WP.
Sy is bly om te sien hoe ver vrouekrieket al gekom het en hoe die sport groei.
Dit was ’n maklike keuse om krieket bo spiesgooi te kies, sê sy. “Jy kan ’n lewe uit krieket maak; atletiek is nie so groot nie.”
Sy hoop op ’n lang loopbaan en om nog veel meer van die wêreld te sien. “Om te reis is nogals cool.”
Die kameraadskap van ’n spansport is nog ’n voordeel.
Sy sal gewis enige jong meisie aanraai om krieket te probeer. “Ek het dit maar probeer en nou speel ek al jare krieket.”
Dit hoef egter nie noodwendig krieket te wees nie, sê sy. “Probeer iets nuuts; iets waaraan jy nie gewoond is nie – iets buite jou gemaksone.”







You must be logged in to post a comment.