Klein Karla Groenewald (7) van Goodwood het die geleentheid gekry om groot drome te bewaarheid – ’n kans om haar skoolloopbaan in ’n hoofstroomskool te begin.
Karla, wat Downsindroom het, het verlede jaar haar gr. R by die Laerskool De Tyger voltooi, maar sal vir gr. 1 by die skool ’n private fasiliteerder benodig om haar in die klas by te staan.
Geld vir dié fasiliteerder is onlangs bymekaar gemaak toe sowat 130 mense by La Rochelle pre-primêre skool se terrein in Bellville bymekaar gekom het vir ’n kleurpretdraf (colour run).
“Met die gemeenskap wat ingespring het om te help, kon ons genoeg geld insamel om die leerfasiliteerder vir die eerste ses maande van die jaar te finansier,” sê die insamelaar Elana Kuyler wat ook by die Down-sindroom-vereniging betrokke is.
Lizann Groenewald, Karla se ma, beskryf haar as ’n klein bondeltjie dinamiet.
“Sy het ’n persoonlikheid wat skrik vir niks en is ook liefdevol en baie vriendelik,” sê sy.
Lizann verduidelik Downsindroom-kinders is visuele leerders.
“Dit beteken deur te sien wat ander kinders doen, hulle vinniger leer. Daarom glo ons sy sal beter vorder in ’n hoofstroomskool tussen neuro-tipiese kinders, al is dit net vir die grondslagfase van haar onderwys. Ons glo dit sal haar die beste kans gee,” sê Lizann.
“Maar omdat klasse groot is en sy dalk meer aandag gaan verg, is dit nodig dat sy ’n leerfasiliteerder saam met haar in die klas het, wat bysit om haar in die klas te help en seker te maak sy raak nie verlore in die klas nie.”
Volgens Lizann is dit moontlik vir Downsindroom-kinders om in ’n hoofstroomskool te wees, maar dis ’n moeilike pad.
“Sy het goed gevorder in gr. R, en ek dink sy sal goed vaar in De Tyger omdat sy baie gretig is om te leer. Maar dit gaan ’n moeilike pad wees. As ouers is ons nie onrealisties nie, maar ons gaan probeer.”
Lizann sê die geldinsameling was ’n wonderlike dag waar families saam tyd kon spandeer.
“Dit was so ’n besige jaar dat ons met die kleurvolle dag ’n atmosfeer wou skep waarin families saam kon pret hê.”
Die familie, bygestaan deur Kuyler, beoog om weer in die nuwe jaar ’n insameling te hou.





