Die produksiespan se basis langs die skool.FOTO: carina roux


’n Filmspan wat aan ’n internasionale produksie werk, het verlede Donderdag in Kuilsrivier begin verfilm.

As jy nog nie in die ry die versperring in of naby Annandalestraat teëgekom, of die “kamp” met groot wit tente en vragmotors langs die Hoërskool De Kuilen gesien het nie, kan TygerBurger bevestig dit is wel waar.

TygerBurger het gepoog om meer uit te vind, maar dit was aanvanklik soos om uit te vra oor ’n staatsgeheim.

’n Produksiebestuurder wat later nader geroep is, het verduidelik hy staan in diens van ’n oorsese kliënt en kan nie te veel (sonder toestemming) uitlap nie.

Hy was wel bereid om te sê die filmspan gaan vir ’n tydjie plaaslik bedrywig wees.

Verfilming het verlede Donderdag in een van die huise plaasgevind. ’n Gedeelte van die straat is afgesper– grootliks om geraas van verbygaande voertuie uit te skakel, het hy verduidelik.

Omliggende inwoners is vooraf geraadpleeg en diegene wie se eiendomme betrek word, ontvang vergoeding daarvoor.

Die skool stel ook ’n gedeelte van sy terrein as basis vir die produksiespan beskikbaar teen vergoeding. Die produksie, Kanji, sal in drie lande verfilm word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article